Gallery
TUINROETE NUUS - Dit was gister, Woensdag 5 Mei, bedrywig by die tweede Covid-19-inentingsperseel in George wat by die Harry Comay-hospitaal geopen het.
Die mikpunt was om op die eerste dag 186 gesondheids- en essensiële werkers by Harry Comay in te ent. Mense het vanoor die distrik aangemeld en daar was gedurende die oggend ook personeel van George Korrektiewe Dienste.
Inentings het gister ook begin by die Oudtshoorn- en Beaufort-Wes-hospitaal asook die Plettenbergbaai-dorpskliniek, en begin Donderdag 6 Mei by die Alma-kliniek in Mosselbaai. Tot dusver het alle inentings in die Tuinroete by die George-hospitaal geskied.
Melissa Mitchell van Task Eden, 'n mediese navorsingsmaatskappy in George verantwoordelik vir die verspreiding van die entstowwe in die Tuinroete, het gesê voor die opskorting van die Sisonke-proewe in middel April is 4 350 mense in die Tuinroete ingeënt.
"Die doel is om teen die einde van volgende week tussen 3 500 en 4 000 mense in te ent. Die samewerking tussen die privaat en openbare sektor in ons huidige omstandighede is fantasties. Dis iets wat nie dikwels gebeur nie en dit wys wat ons kan bereik as ons saamwerk."
Linda Geweld (links) is die verpleegdiensbestuurder van die inentingsperseel by Harry Comay. By haar is operasionele bestuurder Wendy Jass en senior admin officer Hilton Mapolie.
Dr. Tertius Ackerman, Wes-Kaapse Gesondheid se kliniese bestuurder in die George-subdistrik, het gesê 67 000 mense in George kwalifiseer vir fase 2 van die Covid-immuniseringsprogram wat in Mei begin.
"Dit sluit in mense bo 60 jaar, essensiële werkers en mense in inrigtings met beperkte spasie. Tot dusver is nog net 4 550 mense in George op die elektroniese inentingsdatastelsel (EVDS) geregistreer. In Mosselbaai het 5 100 al geregistreer. Ons het vertroue dat dit sal toeneem aangesien ons nog maar aan die begin staan van die uitrol van die program."
Die inentings by Harry Comay is gedoen in die nuwe Dr. Sias Mey-gebou. Mey was gedurende sy 30 jaar lange loopbaan 'n legende in die Wes- en Suid-Kaap vir sy werk om tuberkulose in die Wes-Kaap te bestry. Hy was vir die laaste 18 jaar van sy loopbaan verbonde aan die Harry Comay-hopitaal voordat hy in 2018 afgetree het.
Die Sisonke-inentingsprogram is verlede week hervat. Suid-Afrika verwag om 31 miljoen Johnson & Johnson-dosisse te ontvang. Die land se eerste besending Pfizer-entstowwe - meer as 325 000 - het die naweek in die land aangekom.
Fotogalery: 2de Covid-19-inentingsperseel by die Harry Comay-hospitaal geopen
Dr. Zweli Mkhize, nasionale gesondheidsminister, het gesê nog besendings word in die komende weke verwag. Wes-Kaapse Premier Alan Winde het 'n beroep op mense ouer as 60 gedoen om so gou moontlik op die EVDS te registreer.
Vroeg in die week het 23,9% van die 720 000 inwoners in dié ouderdomsgroep in die provinsie reeds geregistreer.
Nomathemba Tshemese meld aan vir haar inenting by Buyelwa Malindi en Nalan Heunis (regs).
Tuinroete-syfers: 82 nuwe gevalle
Die afgelope week tot en met Dinsdag 4 Mei is 82 nuwe Covid-gevalle in die Tuinroete aangemeld. Aktiewe gevalle bly min of meer konstant.
Op Dinsdag 4 Mei was daar 218 aangemelde aktiewe gevalle (vergeleke met 222 'n week gelede en 221 die week vantevore).
Die getalle per dorp soos op 4 Mei is George 90, Mosselbaai 30, Knysna 12, Oudtshoorn 62, Hessequa 6, Kannaland 7 en Bitou 11.
Essensiële werkers en verpleegsters het al die pad van Uniondale af gekom vir hul inenting by Harry Comay. Van links is Nokothokoza Mpungose, Geraldine Prinsloo, Nomalungelo Mzibeshane en Antonet Meyer. Hulle werk by die Uniondale-hospitaal.
Reisigers uit Indië
Die Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes (NICD) het op Maandag 3 Mei in 'n verklaring gesê hulle gee voorkeur aan kontakopsporing in die geval van positiewe Covid-19-monsters van reisigers uit Indië, waar 'n nuwe variant (B.1.617) waargeneem is en waar die coronavirus vinnig versprei.
Prof. Adrian Puren, die NICD se waarne-mende uitvoerende hoof, het die versekering gegee dat hulle die situasie fyn dophou. Die B.1.617-variant is nog nie in Suid-Afrika waargeneem nie.
Die instituut het Suid-Afrikaners gewaarsku om versigtig te wees, hul maskers te dra en by die toepaslike higiënemaatreëls te hou.
Wyle Dr. Sias Mey, na wie die nuwe gebou vernoem is by die Harry Comay-hospitaal, se tweelingbroer Theo, van Stellenbosch, en sy vrou Dinkie en dogter Henriëtha Mey van Vleesbaai was by die opening.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'