Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy die inisiatief van 'n gr. 6-leerder van Glenwood House, Ianca Rheeder, sal die kombuis van Huis JJ Watson eersdaags nuwe teëls kry.
Die 12-jarige Ianca het 'n projek as deel van leierskapsvaardighede by die skool aangepak en R16 100 ingesamel. Dit is heelwat meer as die oorspronklike teiken van R3 000 wat sy vir haarself gestel het.
Sy het Dinsdag die geld oorhandig en haar inisiatief het groot glimlagte op die bejaarde inwoners se gesigte gebring.
Ianca het aan die George Herald vertel dat leerlinge in gr. 6 by die skool projekte moet aanpak sodat hulle onder meer in aanmerking kan kom om as prefekte gekies te kan word. Die fokus is op leierskapsvaardighede.
Volgens haar kies baie van die kinders gewoonlik projekte wat verband hou met byvoorbeeld diere of om strande skoon te maak.
Sy het besluit sy wil iets anders doen en die idee gekry om iets vir bejaardes te doen. "Hulle word ouer, maar is steeds mense. Soms vergeet mense van hulle.
"Van hulle is oumas en oupas en hulle ontvang nie altyd besoeke nie. Van hulle familie woon ver. Selfs in die buiteland."
Kyk 'n video hieronder.
Om die geld in te samel het sy 'n wedstryd aangebied.
Mense kon lootjies koop teen R10 elk. Die eerste prys was 'n wildbesigtigingstoer by Botlierskop. Uiteindelik het sy sowat 500 kaartjies verkoop.
Op 'n dag het sy van die lootjies by die Outeniqua-rolbalklub verkoop. Daar het toe sy sommer 'n mikrofoon gevat en maatskappye uitgedaag om elkeen groter bydraes te maak.
Dit het gewerk en sy het nog geld ingesamel.
Tracy Wagner het die wenlootjie gekoop. Die tweede prys is deur Marsh Brand gewen en Pierre Stander die derde prys.
Volgens Ianca het sy die projek baie geniet.
"My teiken was R3 000. Ek was verras en baie dankbaar dat ek soveel meer geld kon insamel."
Haar ouers, Yolandi en Niel Rheeder, het gesê hulle is baie trots op hul dogter.
Okkie Stander, bestuurder van Huis JJ Watson, het gesê die instansie is ongelooflik bly. "Ons het klaar besluit op 'n projek. Die kombuis gaan nuwe teëls kry. Ons koppel donasies aan projekte."
Bets Martinson, voorsitter van die huiskomitee, het gesê die instansie is altyd dankbaar as mense bydraes maak, veral as kinders betrokke is.
"Die bejaardes hou van kinders. Van hulle het self kleinkinders en agterkleinkinders."
n Yolandi het namens haar dogter en man dank uitgespreek teenoor verskeie instansies en individue wat gehelp het. Hulle sluit in: Die Outeniqua-rolbalklub, Botlierskop, SAASA (South African Animal Sanctuary Alliance) Plettenberg Bay, Elevate, Pierre Joubert, KTV, Ricoh, Outeniqua Solar, Kommaweer Stoffeerders, Tobi Alberts en Grafix World.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'