GEORGE NUUS - 'n Toelaag van byna R1,2 miljard is verkry vir die opgradering en grootskaalse uitbreiding van George se watersuiweringswerke, pompstasies en die bou van 'n 30 megaliter-balanseringsdam.
Die projek word beskryf as die George-munisipaliteit Drinkwater Sekuriteit en Remediërende Werke en sal in 12 verskillende komponente ontplooi word. Die doel is om watersekerheid en volhoubaarheid te verseker.
"George het aansoek gedoen vir hierdie Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI)-toekenning. Sewentien instellings in die openbare sektor het aansoek gedoen. Ons was die enigstes wat suksesvol was en ons is ingelig dat ons 'n toelaag van R1,197 miljard sal kry wat ons oor die volgende 40 maande moet spandeer," het dr. Michele Gratz, waarnemende munisipale bestuurder, Dinsdag tydens 'n perskonferensie gesê.
George-munisipaliteit se aansoek om 'n BFI is deur die nasionale en provinsiale tesourie goedgekeur, wat George die eerste nie-metro-munisipaliteit maak wat nog ooit so 'n toelaag in Suid-Afrika ontvang het.
Die BFI-befondsing word aan George-munisipaliteit toegeken deur die streekgrootmaat-infrastruktuurtoelae wat deur die departement van water en sanitasie bestuur word.
George-burgemeestser, Leon van Wyk.
Mylpaal
Die goeie nuus is verlede week Vrydag 26 November deur burgemeester Leon van Wyk in die raad gedeel met die ter tafellegging van die Aanpassingsbegroting 2021/22: "Dit is 'n groot mylpaalprojek vir die volhoubaarheid van ons stad wat behuising en ekonomiese ontwikkeling sal stimuleer."
Van Wyk het gesê die projek sal ook die huidige slykstorting in die munisipaliteit se rivier- en damwaterbronne uitwis, wat op sy beurt die watergehalte van die munisipaliteit verbeter.
Portefeuljeraadslid Jackie von Brandis het gesê George is dankbaar en voel geëerd om hierdie fondse te ontvang: "Dit is 'n nuwe mylpaal vir George-munisipaliteit."
READ MORE: Hooray! George secures over a billion rand for mega water project
Projekte
Die projekte vir drinkwatersekerheid en herstelwerke sluit 'n nuwe slykbehande-lingsaanleg in; nuwe 20 Ml/d water-suiweringsaanleg opgradering; opknapping van die bestaande slikafvoerstelsel; opgradering van Tuinroetedam se uitlaatvoorraad; nuwe kragopwekker vir Tuinroetedam-pompstasie om voorsiening van rou water tydens kragonderbrekings te vergemaklik; nuwe 30 Ml balanseringsdam en pypleiding na die nuwe waterbehandelingsaanleg; rehabilitasie van ou waterbehandelingswerke; vervanging van Kaaimansrivier-pompstasie se pompe; nuwe Pacaltsdorp-Wes reservoir; nuwe Pacaltsdorp-Oos reservoir, toring en pompstasie; nuwe Thembalethu-Wes reservoir en pompstasie en 'n nuwe Thembalethu-Oos reservoir, toring en pompstasie.
George-munisipaliteit bedien 212 120 mense uit 62 722 huishoudings (Statistiek SA 2017) oor 28 wyke, insluitend die kusgebiede van Kleinkrantz, Wilderness, Victoriabaai, Heroldsbaai en Gwaiing asook die landelike gebiede van Herold, Waboomskraal, Uniondale en Haarlem.
Portefeuljeraadslid vir begrotingsfasiliteitinfra-struktuur, Jackie von Brandis.
Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'