GEORGE NUUS - Dit gaan binnekort moeiliker wees vir wanbetalers van kinderonderhoud om hulle geldelike verantwoordelikheid teenoor hul kinders te ontduik.
Ingevolge 'n ooreenkoms wat die minister van justisie en staatkundige ontwikkeling, Thembisile Simelane, verlede jaar in November met die Verbruikersprofielburo en Stigting vir Maatskaplike Geregtigheid onderteken het, gaan wanbetalers geswartlys word.
Die Wet op Onderhoud, 1998 (Wet Nr 99 van 1998) bevat reeds bepalings wat vereis dat persoonlike besonderhede van wanbetalers aan kredietburo's en kredietverskaffers deurgegee word, maar daar was struikelblokke wat die proses belemmer het en wat tydens 'n werksessie in 2023 geïdentifiseer is.
Volgens die departement van justisie was daar 'n kritieke behoefte vir samewerking en vennootskappe om hierdie probleme aan te spreek. 'n Stelsel sal nou geskep word wat 'n register van wanbetalers moontlik maak en prosesse sal vereenvoudig.
'n Plaaslike gesinsregprokureur, Isabelle Buhr, sê dit is beslis 'n stap vooruit om dit vir wanbetalers moeilik te maak om krediet te kry.
"Dit maak geen sin dat 'n persoon wat gevonnis is weens wanbetaling van onderhoud, verdere skuld kan aangaan nie."
Voorgestelde wysigings aan wet
Intussen is daar ook voorgestelde wysigings aan die Onderhoudswet in die pyplyn wat onder meer handel oor prosedures wat gevolg moet word.
Buhr verduidelik die belangrikste wysigings wat voorgestel word:
1. Die proses om aansoek te doen om onderhoud en die magte van die onderhoudsbeampte is uitgebrei. Onder meer kan die plek van aansoek ook nou insluit waar die aansoeker of die kind woon.
2. 'n Persoon wat aansoek doen om onderhoud kan ook, net soos getuies in 'n saak, 'n eis vir hofbywoning indien.
3. Daar word nou voorsiening gemaak vir mediasie of arbitrasie in onderhoudsaangeleenthede;
4. Indien die ouer wat nie die primêre versorger van 'n minderjarige kind is nie, 50% betrokke is met die dag-tot-dag sorg
van sodanige kind, sal hy/sy moontlik nie ook 'n onderhoudsbedrag vir dag-tot-dag uitgawes hoef te betaal nie.
Aansoek om onderhoud
Buhr sê die nuwe wysigingsvoorstelle affekteer nie die aansoekproses vir onderhoud as sulks nie. "Die versorger kan egter nou aansoek doen in die jurisdiksiegebied waar die kind woon, of die jurisdiksiegebied waar die versorger self woon.
Die George-onderhoudshof is in my ondervinding baie goed geolie in vergelyking met ander howe.
Ongelukkig neem dit baie tyd vir 'n aansoek om afgehandel te word indien die partye nie tot 'n vergelyk kan kom nie en die saak op verhoor moet gaan."
Toegang tot kinders
Buhr wys daarop dat onderhoud en toegang tot kinders baie streng deur die howe as twee aparte sake hanteer word. "Selfs indien 'n ouer geen onderhoud betaal nie, kan die ander ouer nie kontak weier nie."
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’