GEORGE NUUS - ‘n Paar spanningsvolle ure wat deurslaggewend kan wees vir die politieke toekoms van George wag.
Teen 08:00 vanoggend was 26 van die 28 wyke in George verklaar. Sover vasgestel kon word het die DA 15 van die wyke gewen, die ANC 8 en Good 3. Altesaam 96,61% van die stemme was getel.
Eers wanneer al die wyke verklaar is sal die proporsionele posisies van partye bepaal kan word. Dit kan deurslaggewend wees om te besluit wie aan bewind gaan wees in George.
Tertuis Simmers, die DA se adjunkleier in die Wes-Kaap, het vanoggend aan George Herald gesê die DA het wyk 24 van die ANC afgeneem.
Gegewe die herhaaldelike negatiwiteit teen die DA in George is die party se oosstreek tevrede as na die wyksuitslae wat bekend is, gekyk word.
Op die vraag wat gaan gebeur as ‘n koalisie gevorm moet word omdat daar nie ‘n volstrekte meerderheid is nie, het hy gesê sulke besluite berus by die party se federale leierskap.
Volgens hom is daar baie aspekte wat in aanmerking geneem moet word in die uitslag van ‘n verkiesing. Dit kan nie net aan een faktor gekoppel word nie. Landwyd was daar ook ‘n lae stempersentasie en verskeie faktore was ook daarvoor verantwoordelik.
Hy het benadruk die verkiesing is verby en die nuwe raadslede moet kyk hoe die belange van die gemeenskap gedien kan word. Daar moet nou opgehou word om kleinlike politiek te speel.
Dr. Dennis Farrell, sakeleier en ‘n voormalige stadsraadslid, het gesê magsbalans in die stadsraad is in die stadium nog in die weegskaal. Dit sal eers duidelik wees as die finale uitslag bekend is.
Hy het berekeninge gedoen en sy projeksies is as volg:
- DA – 26
- ANC- 9
- Good- 6
- PBI - 5
- VF Plus 4
- ACDP, PA en EEF een elk.
As die DA ingevolge daarvan aan bewind wil bly, sal die VF Plus en die ACDP as koalisievennote nader getrek moet word. In so ‘n situasie sal die ACDP en die VF Plus sterk kan staan.
Piet van der Hoven, verkiesingskoördineerder van die ANC, het gesê hy is op die oomblik heeltemal in die donker. “Die syfers wat ek aanvanklik gehad het en dit wat nou aan die lig kom, verskil. Ek sien daar is 15 setels vir die DA en 8 vir die ANC op die OVK se website. Ek weet verder niks nie.”
Van der Hoven het bevestig dat daar nog setels vir proporsionele raadslede aangewys moet word. Dit kan eers gebeur wanneer al die stemme klaar getel is. “Ek het aanvanklik gehoop die DA kry heelwat onder 50%. Op die stadium lyk dit vir my hulle gaan baie naby aan dit kom en ek hoop nog steeds dat die DA en VF PLus nie in ‘n koalisie genoeg stemme sal hê om te regeer nie. Ofskoon dit voorkom of die Good-party ‘n hele paar setels in die raad mag hê is dit nog nie deur die OVK bevestig nie. Voor die OVK nie hul bevestiging gegee het nie, kan ‘n mens net spekuleer.”
Piet van der Hoven
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'