Gallery
GEORGE NUUS - As daar 'n prys toegeken kon word vir die stempunt met die meeste geesdrif, sou Blanco-gemeenskapsaal Maandag 1 November 'n sterk aanspraakmaker gewees het.
Nieteenstaande die koue reënweer het honderde kiesers al van vroeg hul kruisies by die stemlokaal in wyk 1 gaan trek.
'n Karnavalatmosfeer het geheers en musiek het gespeel. Verteenwoordigers van politieke partye het op die sypaadjie buite die stemlokaal gesit en vir oulaas gekyk of hulle nie kiesers kon oortuig om vir hul onderskeie partye te stem nie.
Voertuie met die embleme van die onderskeie partye het kiesers aangery en kort-kort toeters geblaas. Kinders het op die sypaadjie gespeel en grootoog gekyk waarmee die grootmense besig is.
Fotogalery: Election Day in George
Crawley-broers
Sam Crawley, Good-kandidaat, het teen sy broer, Gideon gestaan. Gideon het vir die Patriotic Alliance gestaan. Dis met gemengde gevoelens dat hy teen sy broer gestaan het, maar hulle probeer steeds goeie verhoudinge handhaaf, het hy vertel.
Dis belangrik vir kiesers om hul kruisies te trek by 'n party wat hul belange op die hart dra.
Die stempunt by die George-burgersentrum.
Bevin Fortuin, mens weet nooit
Onder die talle mense wat by die stempunt was, was Bevin Fortuin, oud-Springbok en inwoner van Blanco.
Fortuin, wat in die verlede self 'n raadslid was, het 'n deel van die wyk verteenwoordig. Hy het Maandag die DA-kandidaat, Jean Safers gehelp.
Fortuin ken die wyk en het daar grootgeword. Hy moes bontstaan want talle mense wou geselsies met hom aanknoop.
Volgens Fortuin is dit belangrik dat mense gaan stem. Dit gaan oor 'n beter leefwyse.
Op die vraag of hy klaar is met die politiek, het hy geantwoord: "Nie klaar nie. Ek is deur Jean Safers genader om hom te kom help."
Hy het bygevoeg. "Mens weet nooit nie. Dalk sal ek my pak klere en skoene vorentoe afstof vir die politiek. Dis nog in die toekoms."
Bevin Fortuin het die DA in wyk 1 gehelp.
Stadig begin
In 'n stadium het Piet van der Hoven, die ANC se verkiesingskoördineerder, 'n draai gemaak.
Volgens hom was opkoms die eerste twee ure stadig, maar hy het verwag dat dit later sou optel wanneer mense hul huishoudelike pligte afgehandel het. Daar is ook pogings aangewend om kiesers voor die reën by die stembus te kry.
Kiesers by Van Kervel Vaardigheidskool in wyk 5. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'