GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie het die naweek vier moordverdagtes in twee onverwante voorvalle in Sarahsingel, Rosedale, in hegtenis geneem.
Moord op Rudolph Swarts (34)
In die eerste voorval is 'n man, Fergus Swarts (37), in hegtenis geneem nadat hy na bewering Saterdag 25 Mei, sy broer, Rudolph Swarts (34) doodgesteek het. Swarts het Dinsdag 28 Mei in die George-landdroshof verskyn waar die saak tot Donderdag 6 Junie uitgestel is.
Pogings om met die Swarts-familie in aanraking te kom was onsuksesvol.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, word daar vermoed dat die twee broers in 'n stryery was voor die voorval plaasgevind het.
"Die slagoffer het verskeie steekwonde aan die liggaam opgedoen en is deur paramedici op die toneel dood verklaar. Die verdagte is later op aanklag van moord in hegtenis geneem," het Spies gesê.
Moord op Oliver Lottering (22)
Intussen is nóg drie verdagtes in hegtenis geneem in verband met nog 'n moord in Sarahsingel in die vroeë oggendure van Sondag 26 Mei. Die slagoffer, Oliver Lottering (22), se liggaam is met veelvuldige beserings gevind.
Die verdagtes Damian Michaels, Ashley Buys en Devon Goliath, is kort na die voorval in hegtenis geneem en het Dinsdag 28 Mei in die George-landdroshof verskyn.
Hulle is op borgtog vrygelaat en moet weer in September in die hof verskyn. Die drie staan almal tereg op aanklagte van moord.
"Oliver se droom was om 'n voltydse trader te word en 'n sukses daarvan te maak om vir sy ma en broers 'n beter lewe te skep. Dit was hom nie beskore nie. Hy het altyd vir sy vriende opgestaan alhoewel hy die kleinste tussen almal was. As familie vergewe ons sy moordenaars sodat ons met die genesingsproses kan begin," het Lottering se pa, Marthinus gesê.
Oliver Lottering (22) is in Sarahsingel aangeval en vermoor. Drie mans is vir sy moord aangekeer.
Tiener word die naweek begrawe
Die tienermeisie, Lindsay Johnson (17), wat op Sondag 19 Mei in New Dawnpark doodgesteek is, word Saterdag 1 Junie begrawe.
Die verdagte, Sidwell Buys, is Dinsdagaand 21 Mei, in Thembalethu in hegtenis geneem. Hy het verlede week in die George-landdroshof verskyn. Hy het sy borgtogaansoek laat vaar en verskyn weer Dinsdag 18 Junie in die hof.
Hy staan tereg op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat 'n ander vrou, wat saam met Johnson was ten tyde van die voorval, ook ernstige steekwonde opgedoen het.
Johnson, die ander slagoffer en die verdagte het glo by 'n huis gekuier toe 'n argument ontstaan het. Johnson is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar, terwyl haar vriendin hospitaal toe geneem is.
'n Roudiens is Dinsdag 28 Mei by haar huis in Crotonslot gehou en nog een word vanaand, Donderdag 30 Mei, om 19:00 gehou. Johnson word Saterdag begrawe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’