GEORGE NUUS - 'n 27-jarige man van Reigerpark, Bradley 'Milky' Baardman, wat Sondagmiddag, 24 Maart omstreeks 13:30 deur 'n African Express-bus op die N2 raakgery is, het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Baardman was glo besig om die hoofweg naby Lawaaikamp te kruis toe hy voor die bus beland het. Dié busdiens was onlangs in die nuus oor verskeie kwessies rondom skolevervoer en busse wat onklaar raak.
"Die busbestuurder het ten alle koste probeer om die voetganger te vermy, maar dit was ongelukkig nie moontlik nie. Dis moeilik om uit te swaai as jy met 'n bus met passasiers op die N2 ry," het eienaar van African Express-busdiens, Praveen Singh gesê.
Die busbestuurder was onderweg vanaf Blanco na Thembalethu om plaaswerkers by hul huise af te laai toe die oorledene voor die bus beland het.
Nooddienste was vinnig op die toneel en Baardman is na die hospitaal geneem waar hy oorlede is.
Niemand in die bus het ernstige beserings opgedoen nie.
Teen druktyd Dinsdagoggend kon George Herald nog nie met Baardman se familie in kontak kom nie.
Die Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, sers. Chris Spies, het gesê die ondersoek in die saak gaan voort en die dossier sal na afloop van die polisie-ondersoek aan die Nasionale Vervolgingsgesag voorgelê word vir 'n besluit om te vervolg.
Begrafnisreëlings word voorlopig vir volgende Saterdag getref, maar moet nog bevestig word. Hy laat sy ma, suster en broer agter.
Die volgende dag (Maandag 25 Maart) was nóg 'n African Express-bus in 'n motorongeluk betrokke toe 'n bakkie en een van die busse op die R404 naby die afdraai na Redberry Farm net buite Blanco gebots het.
Volgens Singh was die busbestuur-der besig om die pad te kruis vanaf die busse se parkeerarea langs die R404 naby die afdraai na Geelhoutboom, om plaaswerkers by Haygrove op te tel, toe die bakkie in die bus vasgery het.
Die bakkie het uit die rigting van Blanco gekom. Niemand het ernstige beserings opgedoen nie en daar was geen passasiers in die bus nie.
"Die bestuurder sê hy het glad nie eers die bakkie gesien nie. Toe hy die pad kruis het hy seker gemaak dat daar nie ander voertuie in sig is nie. Ek is dankbaar niemand is ernstig beseer nie," het Singh gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’