GEORGE NUUS - Vyf vermeende diewe het verlede week hul rieme styfgeloop nadat hulle stukke beesvleis van 'n ongelukstoneel op Herold probeer steel het. Drie beeste wat aan 'n boer in die omgewing behoort, is op 22 Oktober deur twee aankomende voertuie op die N9 getref. Die polisie en nooddienste is omstreeks 20:00 daarvan in kennis gestel.
AfriForum se Herold-plaaswag het ook na die toneel gehaas, waar hulle gehelp het om verkeer te reguleer.
Terwyl die nooddienste nog op pad was, het 'n bakkie met vyf mans by die ongelukstoneel gestop en een van die dooie beeste op die toneel begin opkap. Volgens Marthinus Erasmus, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Suid-Kaap, het die mans omstanders gedreig, gevloek en beledigings toegesnou terwyl hulle die beesvleis gebuit het.
"Die mans het met die vleis in die voertuig gespring en in die rigting van Uniondale op die vlug geslaan," sê Erasmus in 'n persverklaring.
Met behulp van LPR-kameras, wat van kunsmatige intelligensie gebruik maak om nommerplate te ontleed, het AfriForum se plaaswag vasgestel dat die voertuig nog in die omgewing is en na dit begin soek.
Die plaaswag het gou die voertuig opgespoor en in samewerking met die polisie is die voertuig afgetrek en die vier insittendes in hegtenis geneem. Die polisie het op kapmesse beslag gelê wat glo gebruik is om die bees op te kap, asook die bakkie waarop bloedspatsels duidelik sigbaar was.
Lede van die plaaswag het toe saam met die polisie na 'n huis gegaan waar die beesvleis by 'n vyfde verdagte afgelaai is.
Die vleis, asook 'n aantal Mandrax-tablette, is in sy besit gevind. Hy is in hegtenis geneem en die polisie ondersoek die saak verder.
Die plaaswag het dae voor die voorval ’n gebeurlikheidsplan vir veediefstal ingeoefen. Die lesse wat hulle daaruit geleer het, kon hulle toe prakties in hierdie geval toegepas het, sê Gus du Toit, leier van AfriForum se Herold-plaaswag.
"Dis net weereens 'n bewys hoe belangrik dit is om deeglik voorbereid te wees. Ongelukkig leef talle mense met die wanpersepsie dat hulle nooit die slagoffers van ’n misdaad sal wees nie. Dit is juis dan wanneer hulle onverhoeds gevang word. AfriForum sal egter voortgaan om sy lede op te lei sodat misdaad nie ’n vastrapplek in die gebied kan kry nie," sê Du Toit.
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’