GEORGE NUUS - Leerders van Hoërskool Pacaltsdorp is vanmiddag, Dinsdag 5 Mei, vroeg huis toe gestuur ná ’n inbraak en ernstige vandalisme gisteraand by die skool.
Verskeie items is gesteel en groot skade aan die skool se infrastruktuur is aangerig.
Die skade aan die waterstelsel het daartoe gelei dat die skool vandag reeds om 12:00 moes sluit weens die gebrek aan water en die gepaardgaande gesondheidsrisiko’s.
Volgens kommunikasie op die skool se Facebook-blad en wat aan ouers gestuur is, het die voorval iewers gedurende die nag plaasgevind.
Onder die items wat gesteel is, tel onder meer ’n Epson-dataprojektor, terwyl fasiliteite soos die meisieskleedkamers opgebreek is.
Koperpype is afgebreek, elektriese drade en die skool se internetstelsel is geknip, en ’n muntmasjien wat vir sanitêre produkte gebruik word, is beskadig.
Die voorval is by die polisie aangemeld.
Clifton Titus, die skoolhoof, het in ’n boodskap aan ouers gesê die voorval is ’n groot teleurstelling.
George Herald het 'n medianavraag aan die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder gerig en wag op terugvoer rakende moontlike arrestasies en die aard van die ondersoek.
Onder die items wat gesteel is, tel onder meer ’n Epson-dataprojektor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’