GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp-polisie ondersoek 'n saak van poging tot moord ná 'n skietvoorval Saterdagaand, 2 Maart, waarin 'n 15-jarige seun geskiet en gewond is.
Die voorval spruit na bewering uit 'n bakleiery tussen twee groepe in Joseph-singel, Rosedale, waarna die slagoffer 'n skietwond aan die linkerkant van sy bolyf, naby sy hart, opgedoen het.
Polisielede is ná die voorval na die hospitaal ontbied waar die slagoffer mediese behandeling ontvang het.
Sedert die voorval is daar op 'n vuurwapen beslag gelê en een persoon is Maandag op aanklag van poging tot moord, in hegtenis geneem.
Teen druktyd was daar nog geen inligting beskikbaar rondom die verdagte se hofverskyning nie.
'n Provinsiale polisiewoordvoerder, sers. Wesley Twigg, het gesê omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Crime Stop by 08600 10 111 te skakel.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’