GEORGE NUUS - Conville-polisie is op soek na ’n groep jongmense wat glo verantwoordelik was vir ernstige saakbeskadiging en aanranding by ’n vulstasie op die hoek van Mainstraat en Nelson Mandela Boulevard in Parkdene op Saterdag 30 Mei omstreeks 20:00.
Volgens inligting het die groep, wat na bewering uit sewe tot agt minderjariges bestaan, oor die heining van die perseel geklim waarna petroljoggies en gemeenskapslede wat probeer ingryp het, aangeval is.
Stene is glo na mense en die vulstasie se vensters gegooi, wat tot verdere skade gelei het.
’n Insleepdiensvoertuig wat op die toneel was en die bestuurder wat probeer het om die situasie te ontlont, is ook aangeval.
Die bestuurder is met ’n mes gesteek en met bakstene oor die kop getref. Hy is sedertdien uit die hospitaal ontslaan. Sy voertuig is ook met bakstene bestook.
Toe die groep uitmekaar gespat het, is een van die verdagtes glo deur ’n voertuig getref. Die aard van sy beserings is nog onbekend. Dit is in hierdie stadium nie bevestig of enige arrestasies gemaak is nie.
Beweringe dat daar uit die winkel gesteel is, kon nie bevestig word nie. ’n Medianavraag is aan die polisie gerig vir kommentaar en terugvoer word binnekort verwag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’