Update
GEORGE NUUS – Die saak teen Charly Daman (51), Elandré Karelse (26) en Anthony Malgas (55) is vandag, Vrydag 1 Augustus, van die hofrol geskrap ná die klaer vir die soveelste keer nie by die hof opgedaag het nie.
Die drie het tereg gestaan op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer ná 'n voorval op Oujaarsdag verlede jaar in Isaacstraat, Rosedale, waartydens ’n 26-jarige man glo aangerand is.
Daman is die voormalige voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Hy en sy twee medebeskuldigdes het sedert hulle eerste verskyning op 7 Januarie vanjaar verskeie kere in die George-streekhof verskyn.
Volgens beskikbare inligting is die beweerde slagoffer daarvan beskuldig dat hy Malgas se seun van ’n selfoon beroof het. Die beskuldigdes het hom glo hieroor gekonfronteer, maar hy het enige betrokkenheid ontken. Daar word beweer dat hy daarna met ’n stok aangerand is.
Die man is later hospitaal toe geneem waar hy vir ’n gebreekte arm behandel en ontslaan is.
’n Lid van die gemeenskap beweer egter dat die slagoffer eers deur inwoners aangerand is.
Daarna is hy en ’n vriend glo vir hul veiligheid na Malgas se woning geneem, waarna Malgas vir Daman geskakel het toe die polisie glo nie op oproepe gereageer het nie.
Daman het na die toneel in Isaacstraat gegaan en self weer die polisie geskakel. Die polisie het later opgedaag en die beweerde slagoffer gearresteer op aanklagte van roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Daman, Karelse en Malgas is op Saterdag 4 Januarie in hegtenis geneem ná die slagoffer klagtes teen hulle aanhangig gemaak het.
Vorige artikels:
- GPF-voorsitter se verhoor in Julie
- Pacs GPF-voorsitter vrygelaat op borgtog
- GPF-voorsitter aangekla van ernstige aanranding
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’