Update
GEORGE NUUS - In 'n volgepakte hof is die voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Charly Daman (51), en sy mede-beskuldigdes, Elandré Karelse (26) en Anthony Malgas (55), vandag, Vrydag 10 Januarie, borgtog toegestaan.
'n Groot groep gemeenskapslede het die hofverrigtinge bygewoon ter ondersteuning van die drie beskuldigdes.
Daman, Karelse en Malgas staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Die aanklagte spruit uit 'n voorval op Oujaarsdag in Isaacstraat, Rosedale, waartydens 'n 26-jarige man glo aangerand is. Die drie is op Saterdag 4 Januarie in hegtenis geneem.
Volgens beskikbare inligting is die slagoffer daarvan beskuldig dat hy Malgas se seun van 'n selfoon beroof het. Die drie beskuldigdes het hom glo daaroor gekonfronteer, maar hy het enige betrokkenheid ontken.
Hulle het hom glo daarna met 'n stok aangerand. Hy is na die hospitaal vervoer en vir 'n gebreekte arm behandel en ontslaan.
'n Klag van roof is ook teen die slagoffer aanhangig gemaak. Hy het glo eers 'n paar dae daarná die klag van aanranding teen Daman, Karelse en Malgas aangemeld. George Herald is besig om inligting rondom die roofsaak op te volg.
Tydens haar uitspraak het die landdros genoem dat die gemeenskap nie die reg in hul eie hande moet neem nie.
Daman is op borgtog van R500 vrygelaat, terwyl Malgas op 'n waarskuwing vrygelaat is. Karelse moes borgtog van R1 000 betaal. Hy het ook 'n hangende moordsaak teen hom, wat voortspruit uit 'n voorval in 2018.
Karelse is destyds op borgtog vrygelaat en het sedertdien nie weer met die gereg gebots nie.
Daman staar ook 'n tweede klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer in die gesig na 'n beweerde voorval op 12 Desember. Hy is op hierdie saak op 'n waarskuwing vrygelaat.
Na hofverrigtinge het die gemeenskapslede wat daar was, hulle ontevredenheid oor Daman, Karelse en Malgas se arrestasie uitgespreek.
Die drie moet weer op Dinsdag 11 Februarie in die hof verskyn.
Elandré Karelse (links) en Samuel Jappie, ondersteun Charly Daman ná hofverrigtinge. Daman is tydens sy arrestasie in die Pacaltsdorp-polisiestasie, glo deur 'n spinnekop gebyt en het nie dadelik behandeling ontvang nie. Sedertdien kan hy nie op sy linkerbeen trap nie.
Gemeenskapslede saam met die drie beskuldigdes by die hof ná die borgtogaansoeke afgehandel is.
Lees 'n vorige artikel: GPF-voorsitter aangekla van ernstige aanranding
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’