GEORGE NUUS - Gemengde gevoelens heers onder sekere inwoners van Pacaltsdorp ná die arrestasie van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF)-voorsitter, Charly Daman (51) vroeg Saterdagoggend, 4 Januarie.
Daman en nog twee mans, Elandré Karelse (26) en Anthony Malgas (55), is op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekeer na ‘n voorval op Oujaarsdag in Isaacstraat, Rosedale, waartydens ‘n man (26) aangerand is. Dit is in hierdie stadium onbekend of Karelse en Malgas ook lede van die GPF is.
Die slagoffer is volgens inligting daarvan beskuldig dat hy iemand van ‘n selfoon beroof het.
Hy is glo deur die drie verdagtes gekonfronteer daaroor, maar het enige betrokkenheid ontken.
Hulle het om daarna glo met stokke aangerand en hy is met ernstige beserings aan sy arms na die hospitaal geneem. Na hy ontslaan is, het hy die klagtes by die Pacaltdorp-polisie aangemeld.
Die drie verdagtes het Maandag 6 Januarie in die George-hof verskyn. Die saak is uitgestel tot Vrydag 10 Januarie vir ‘n formele borgtogaansoek. Al drie mans bly in aanhouding.
Daman staar ‘n tweede klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig na nog ‘n beweerde voorval op 12 Desember.
Verskeie inwoners het Saterdagoggend, ná die drie se arrestasie, opgeruk na die dienssentrum waar hulle Daman-hulle se vrylating geëis het. Lede van die openbare orde polisie (Pops) is uitgeroep na die stasie, maar met die lede se aankoms was die groep ontevredenes reeds weg.
Marilyn Scheepers Olifant, die ondervoorsitter van die Pacaltsdorp GPF, het by navraag gesê hulle gaan in die stadium nie kommentaar lewer nie.
Sersant Chris Spies, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die Pacaltsdorp-speurders ondersoek twee sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
"Beskikbare verslae dui daarop dat hierdie sake verband hou met voorvalle op 12 en 31 Desember 2024. Een van die beskuldigdes staan tereg op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, en die ander twee verdagtes een [klagte] elk. Meer aanklagte kan bygevoeg word soos hierdie ondersoek ontvou."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’