Update
GEORGE NUUS - Die voormalige voorsitter van die Pacaltsdorp-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Charly Daman (51), en sy medebeskuldigdes, Elandré Karelse (26) en Anthony Malgas (55), het weer Dinsdag 17 Junie in die George-streekhof verskyn.
Die saak is tot Maandag 7 Julie uitgestel vir hul verhoor om te begin.
Daman, Karelse en Malgas staan tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer ná 'n voorval verlede jaar op Oujaarsdag in Isaacstraat, Rosedale, waartydens 'n 26-jarige man glo aangerand is.
Volgens beskikbare inligting is die slagoffer daarvan beskuldig dat hy Malgas se seun van 'n selfoon beroof het. Die beskuldigdes het hom glo daaroor gekonfronteer, maar hy het enige betrokkenheid ontken.
Daarna het hulle hom glo met 'n stok aangerand. Hy is na die hospitaal geneem en vir 'n gebreekte arm behandel en ontslaan.
'n Lid van die gemeenskap beweer egter dat die slagoffer eers deur inwoners aangerand is. Daarna is hy en 'n vriend deur Malgas na sy [Malgas] woning geneem, glo vir hul veiligheid.
Malgas het toe vir Daman geskakel omdat die polisie blykbaar nie op hul oproepe gereageer het nie.
Daman het na die toneel in Isaacstraat gegaan en weer die polisie geskakel.
Die polisie het toe opgedaag en die beweerde slagoffer gearresteer op aanklagte van roof en aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Daman, Karelse en Malgas is die daaropvolgende Saterdag, 4 Januarie, in hegtenis geneem op die aanklagte teen hulle ná die slagoffer die klagtes aanhangig gemaak het.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’