GEORGE NUUS - Hy is doodgemaak vir iets waaraan hy blykbaar nie skuldig was nie. "Hulle het gesê hy het een van die beskuldigdes se pa geklap, maar toe die daad [die aanranding] gedoen is het die pa glo kom kyk en gesê dit was nie hy nie."
Só vertel Christopher Kiewedoor oor sy neef van New Dawnpark se dood.
Jody Jansen (25) is op Saterdag 9 November omstreeks 03:00 voor sy huis in Sierrissiestraat, by sy tuinhekkie, deur 'n groep mans aangeval.
Hy was op pad huis toe na 'n aand uit saam met vriende. Volgens inligting is verskeie wapens tydens die aanranding gebruik.
Hy het op Dinsdag 12 November in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Jansen, 'n oumakind, se ouers is dood toe hy en sy suster (22) nog baie jonk was. Sy ouma (75) het hulle grootgemaak. Voor sy dood het hy saam met sy oom by Outeniqua Refrigeration gewerk.
Volgens 'n kollega, Hannah Grasman, was Jody altyd baie vriendelik.
"Maak nie saak wat jy hom vra om te doen nie, hy het altyd ingestem. 'Ja tannie ek doen dit nou ... altyd met 'n glimlag op sy gesig.
"Ek wou hom 'n paar keer al pakslae gegee het - ons het hom altyd daaroor geterg, dan sê hy 'tannie is 'n kwaai ma, maar regverdig'. Sy lewe is te vroeg van hom weggesteel," sê sy.
Volgens Kiewedoor is begrafnisreëlings vir Jody nog nie bevestig nie, maar hulle beplan om dit binne die volgende twee weke af te handel.
"Hy was 'n goeie kind. Hy het hard gewerk om na sy ouma en sy sussie om te sien. Sy dood laat 'n vreeslike groot leemte. Ek gaan hom elke dag mis. Ons was nie net familie nie, maar kollegas ook," sê Kiewedoor.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sersant Chris Spies, sê aanvanklik is 'n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer geopen. Ná Jansen se dood in die hospitaal is die saak egter na dié van moord verander.
Twee verdagtes Damion Speelman (18) en Ettienne Esau (27) is in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle het Woensdag 20 November in die George-landdroshof vir 'n borgtogaansoek verskyn.
Die saak is tot Maandag 25 November uitgestel vir die aansoek om voort te gaan omdat die hofrol oorvol is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’