GEORGE NUUS - 'n Man van Borcherds is Maandag 2 Desember in hegtenis geneem nadat hy glo leerders en onderwysers van Heidedal Primêr geïntimideer en met 'n vuurwapen gedreig het.
Volgens inligting het die verdagte toegang tot die skoolterrein verkry, waarna hy na die personeelkamer gegaan het en 'n vuurwapen uitgepluk het.
Die motief agter die voorval kon nog nie bevestig word nie.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het gesê dat die Conville-polisie en lede van die Outeniqua K9-eenheid omstreeks 10:20 by die skool opgedaag het.
Met hul aankoms het die verdagte reeds die perseel verlaat. "Inligting oor waar hy was het die polisie na Maraiskamp gelei, waar die verdagte in hegtenis geneem is nadat 'n ongelisensieerde vuurwapen in sy besit gevind is," het Spies gesê.
Die verdagte is in aanhouding en staan tereg op aanklagte van intimidasie en onwettige besit van 'n vuurwapen.
Die wapen sal na 'n laboratorium gestuur word vir ballistiese toetse om te bevestig of dit in 'n vorige voorval in die omgewing gebruik is.
Stukkende heining
Die voorval volg na talle klagtes oor die heining by die skool. Met George Herald se besoek aan die toneel was kontrakteurs besig om 'n nuwe heining by die skool op te sit.
Dit is in hierdie stadium onduidelik waar die verdagte toegang tot die skool verkry het. Die vermoede bestaan dat hy deur 'n gat in die ou heining geklim het.
Die beheerliggaam sukkel al vir twee jaar om die heining te laat herstel. 'n Groot deel van die ou heining is afgebreek weens vandalisme, maar met die jare het die wind en weer ook die heining beskadig. Intussen word die besonderhede rondom die voorval by die skool deur die polisie ondersoek.
Die skoolhoof, Dudley Schoeman, wou met George Herald se besoek aan die skool nie kommentaar lewer nie. Kommentaar word van die Wes-Kaapse departement van onderwys verwag.
Die heining voor die skool wat stelselmatig vervang word.‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’