GEORGE NUUS - 'n Groep van agt moordbeskuldigdes van Borcherds is Dinsdag 12 Maart elkeen borgtog van R500 toegestaan in die George-landdroshof.
'n Negende beskuldigde, 'n minderjarige meisie (16) wat saam met die ander op Vrydag 16 Februarie in hegtenis geneem is, is vroeër op waarskuwing vrygelaat.
Een van die lede van die groep, Freek Mouton, het sy borgtogaansoek laat vaar.
Al nege beskuldigdes, Selwyn Stalmeester, Marisha Kock, Ziyanda Mbuzwana, Jonathan Williams, Mawada Mbuzwana, Mouton, Ricardo Swartbooi, Rodencha Jacobs en die minderjarige, word van die moord op Gareth Valentine, ook van Borcherds, aangekla ná hulle hom in Desember 2023 met verskeie voorwerpe aangerand het.
Volgens onbevestigde inligting volg die voorval ná lede van die groep Valentine van selfoondiefstal beskuldig het.
'n Bron het aan George Herald gesê dat die beskuldigdes Valentine aangerand het ná die selfoon by 'n man in Lawaaikamp, aan wie Valentine dit glo verkoop het, gevind is.
Valentine is ná die voorval na die hospitaal geneem waar hy later aan sy beserings beswyk het. Gevolglik het die Conville-polisie 'n moorddossier geopen.
'n Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het gesê 'n moordklag is by die Conville-polisiestasie aangemeld ná die aanvanklike klag van aanranding op 24 Desember verlede jaar.
"Nege mense, waaronder drie vroue en ses mans, tussen die ouderdomme van 16 en 45 jaar oud, is in hegtenis geneem. Die oorledene is na 'n nabygeleë hospitaal geneem waar hy op 2 Januarie 2024 weens sy beserings dood is . Sewe van die verdagtes is op borgtog vrygelaat, die minderjarige is in die sorg van ma vrygelaat, een verdagte het sy borgtog laat vaar," sê Van Wyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’