TUINROETE NUUS - ’n Man het gisteraand, Dinsdag 1 Julie omstreeks 19:00, messteekwonde opgedoen tydens ’n gewapende roof by ’n winkel in Sinksabrug.
Volgens beskikbare inligting het vier verdagtes, gewapen met ’n vuurwapen en ’n mes, die winkel binnegestorm en die slagoffer gedreig en aangeval.
Die verdagtes het glo balaklawas gedra en dit is in hierdie stadium nog onseker of die slagoffer die eienaar, of 'n werknemer, van die winkel is.
Volgens sersant Lauriane Botha, woordvoerder van die Groot-Brakrivier-polisie, is kontant en items ter waarde van sowat R24 000 gebuit. Onder die items was 10 onbekende selfone en ’n iPhone 14 Pro.
Die slagoffer is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer waar hy in ’n stabiele toestand behandel word.
Die verdagtes is steeds op vrye voet en ’n polisie-ondersoek is aan die gang.
Meer inligting sal gepubliseer word sodra dit beskikbaar is. Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om hul naaste polisiestasie te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’