GEORGE NUUS - 'n Gedenkdiens vir mense wat aan Covid-19 gesterf het is vanmiddag, Saterdag 20 November, in die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal gehou.
'n Paar mense wat ernstige Covid oorleef het of wat familielede aan Covid verloor het, het hulle ervarings met die gehoor gedeel voordat pastoor Alan Spies 'n bemoedigende boodskap gebring het.
Kerse is aangesteek tydens 'n tyd van stilte vir die persone wat gesterf het.
Solly Gysman, wat ernstige Covid gehad het, het vertel hy was nege dae in die intensiewesorgeenheid. Ses mense is rondom hom dood weens Covid.
Hy was vreesbevange, maar een aand toe die tekens alles daarop gedui het dat hy gaan sterf, het hy 'n ervaring gehad waar die Here hom aangeraak het. Sy suurstofvlakke het oombliklik na normaal teruggekeer en die dokters kon nie verstaan wat gebeur het nie, het hy vertel.
Spies het gepraat uit Markus 4 waarin Markus beskryf hoe Jesus die storm stilgemaak het. Net soos die dissipels na Jesus uitgeroep het in omstandighede waar hulle geen uitkoms gesien het nie, kan 'n mens na Hom uitroep wanneer jou omstandighede te veel word en Hy kan jou situasie omdraai, het hy gesê.
Pastoor Alan Spies het 'n hoopvolle boodskap gebring.
Solly Gysman, 'n brandweerman, gesels oor sy ervaring met Covid.
Foto's: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'