GEORGE NUUS - "Dit was nie seer nie, ek het niks gevoel nie." Só vertel Frans Plaatjies (84) van Pacaltsdorp net na sy eerste Covid-19-inenting gisteroggend.
Beide Plaatjies en sy vrou, Louisa (80), is gister by die AGS-kerk in Pacaltsdorp, ingeënt. Die perseel word sedert verlede Woensdag as 'n lokaal deur Harry Comay-hospitaal gebruik en is slegs op Woensdae oop.
Harry Comay se matrone, Linda Geweld, wat ook die inentingspersele koördineer, sê dié lokaal het verlede week 192 mense bedien. Met George Herald se besoek gisteroggend was dit nie te besig nie, maar die koue weer het heel moontlik iets daarmee te doen gehad.
"Ons ent volgende Woensdag 28 Julie maatskaplike werkers van die departement van sosiale ontwikkeling, maar daarna kan enige lid van die publiek ons weer op 'n Woensdag kom sien," het Geweld gesê.
Die AGS-kerk in Pacaltsdorp, hoek van Rose- en Acaciastraat, is tans Woensdae (behalwe 28 Julie) oop vir die publiek vir Covid-19-inentings.
Personeel van Harry Comay begin vandag met 'n uitreik na die plaasgemeenskap in die George-munisipale gebied, waar werknemers van plase inentings gaan ontvang. Hulle eerste stop is by Haygrove in Geelhoutboom.
Pastoor Allen Spies is baie dankbaar dat hulle van hulp kon wees deur die kerkperseel beskikbaar te stel.
"Ek en my vrou René val in die bo 50's kategorie en was die eerstes om verlede week ons inentings hier te ontvang. Ek wil graag hê dit moet dien as aanmoediging vir ander om ook hulself te laat ent."
Ons is hier! Douglas Brown (links, 57) en Annemarie Hendricks (52) het hul eerste inenting gister ontvang, terwyl Steven Bownan (tweede van regs, 67) sy tweede en laaste inenting ontvang het. Saam met hulle is gemeenskapsgesondheidswerkers Lesley-Ann Dixon en Ronel Booysen.
Frans Plaatjies (84) bemoedig sy vrou, Louisa Plaatjies (80), na haar eerste Covid-19 inenting by die AGS-kerk in Pacaltsdorp. Staf-suster Lucricia Webber was daar om die egpaar te ent. Foto's: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'