TUINROETE | KAROO NUUS - Ten spyte van internasionale en plaaslike data wat onteen-seglik toon dat inenting mense teen ernstige Covid-19, hospitalisasie en sterfte beskerm, is daar steeds 'n mate van weerstand onder sommige wat twyfel oor die veiligheid van die entstowwe.
Berigte van ernstige newe-effekte soos bloedklonte en inflammasie van die hartspier in jonger mans is van die aspekte wat sommige onwillig stem.
Hierdie ernstige newe-effekte is egter skaars. In Suid-Afrika ontvang mense tans Johnson & Johnson (J&J) en Pfizer se entstowwe wat ook in die VSA gebruik word.
Statistieke
Volgens die Centers for Disease Control (CDC), is anafilakse ná Covid-19-inenting aangemeld by slegs twee tot vyf mense per miljoen in die VSA. Trombose (bloedklontvorming) na inenting met J&J is aangeteken in 39 gevalle (meestal in vroue onder 50 jaar) uit net meer as 13 million dosisse wat teen 19 Julie in die VSA toegedien is.
Twee gevalle van trombose is ná inenting met 'n mRNA-entstof aangemeld uit die 339 miljoen dosisse wat tot en met 19 Julie in die VSA toegedien is.
'n Totaal van 674 gevalle van inflammasie van die hartspier (meestal onder jong mans van 16 en ouer) is bevestig ná inenting met Covid-19 mRNA-ent-stowwe (Moderna en Pfizer) in die VSA, maar daar moet nog vasgestel word of daar 'n verband met die inenting was.
'Inenting is 'n veiligheidsgordel'
Prof. Gert van Zyl van die Mediese Virologiedepartement van die Universiteit Stel-lenbosch en Nasionale Gesondheidslabora-toriumdiens, het by navraag gesê die beginsel wat 'n mens moet verstaan, is dat baie lewenskeuses gaan oor risikovoordeel.
"Covid-19 maak dood en in mense wat dit oorleef, kan dit lei tot langdurige siekte. Geen medikasie of entstof is volkome veilig nie, maar die risikovoordeel van inenting is voordelig in alle ouderdomsgroepe waarin dit gelisensieer is. Ek sien inenting soos 'n veiligheidsgordel wanneer 'n mens bestuur. Dit doen baie meer goed as skade en keer dat 'n mens se gesig deur die windskerm gaan as jy bots of skielik moet stop."
In Suid-Afrika is op 22 Julie in die nuus berig dat van die 5,5 miljoen mense in Suid-Afrika wat ingeënt is, 3 730 gevalle newe-effekte aangemeld het en 279 verdere ondersoek benodig.
"Daar was ook 28 sterfgevalle, maar dit is nog nie duidelik watter van die sterftes moontlik weens inentingskomplikasies was nie. 'n Mens moet in gedagte hou dat bejaardes eerste ingeënt is en die entstof se beskerming tot twee weke kan neem en op sy beste is na die tweede entstsof. Die beskerming teen Covid-19 is dus nie onmiddellik nie en die sterftekoers in bejaardes is hoog - in mans bo 80 ongeveer 10% en in vroue bo 80 ongeveer 5%.
Daarbenewens is daar baie ander oorsake van sterfte in bejaardes. Die groot meerderheid van die sterftes is dus waarskynlik nie weens inenting nie."
Vinnige ontwikkeling
Hy verduidelik dat die entstowwe teen Covid-19 so vinnig kon geskied omdat die ontwikkeling daarvan deur baie jare se navorsing voorafgegaan is.
"Dit het die veiligheid en effektiwiteit van bepaalde benaderings vasgestel. Die J&J-entstof het dieselfde adenovirus-ruggraat gebruik in 'n Ebolavirus-entstof en het net die suiwer Sars-CoV-2-pennetjiesproteïen se geen ingevoeg. Die mRNA-tegnologie (Pfizer- en Moderna-entstowwe) is vir kankerterapie ontwikkel en is net vir SARS-CoV-2 aangepas."
Verskeie fases van studies wat veiligheid en effektiwiteit moet vasstel, is nodig vir die goedkeuring van 'n entstof. Wêreldwye samewerking het dit moontlik gemaak, befondsing is bewillig en baie navorsers het betrokke geraak.
"Administratiewe rompslomp wat dikwels die proses vertraag, is ver-minder en die hoë koers van infeksies en wêreldwye samewerking het dit moontlik gemaak om vining veilgheids- en effektiwiteitsdata te bekom."
Verklaring vir ligte infeksie ná inenting
Van Zyl sê hoewel sekere populasiestudies wys dat beskerming teen ligte infeksie deur die Delta-variant wel bestaan, is daar beskerming teen ernstige infeksie, hospitalisasie en dood.
"Ons weet nog nie hoe lank nie, en ek is ook nie bewus van populasiedata sedert die Delta-variant in Suid Afrika sirkuleer nie. Die soort teenliggaampies wat die entstowwe uitlok, het 'n hoër konsentrasie in die bloed en longe as in die neus. Dit is daarom nie vreemd dat meer mense 'n Covid-19-verkoue eerder as longonsteking kry nadat hulle ingeënt is nie."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'