Sponsored Content
BESIGHEIDSNUUS - 'n Beskuldigde persoon se reg op ? billike verhoor kan moontlik bots met die publiek se begeerte om misdadigers skuldig te laat bevind. Met hierdie botsing in gedagte, kan ‘n mens verstaan hoekom dit soms ingewikkeld is om te bepaal of sekere getuienis toelaatbaar moet wees tydens verhoorverrigtinge.
Nie alle getuienis of bewyse wat verkry word, sal grondwetlik toelaatbaar wees nie. Artikel 35(5) van die Grondwet 1996, bepaal soos volg: “Getuienis wat verkry is op ? wyse wat enige reg in die Handves van Regte skend, moet uitgesluit word indien toelating van daardie getuienis die verhoor onbillik sou maak of andersins vir die regspleging nadelig sou wees.”.
Uit hierdie Grondwetlike bepaling, kan ons twee duidelike vereistes sien waaraan enige getuienis moet voldoen, om toelaatbaar te wees tydens ‘n verhoor. Eerstens moet daar bepaal word of die betrokke getuienis tot ‘n onregverdige verhoor sal lei en tweedens of die getuienis nadelig sal wees vir die regspleging. Indien daar aan die twee vereistes voldoen word, moet daar ook natuurlik vasgestel word of daar ‘n kousale verband is tussen die verkryging van die getuienis en die regte wat moontlik geskend is, voordat die getuienis uitgesluit kan word.
Wanneer die toelaatbaarheid van getuienis of bewyse oorweeg word kan die vasstelling daarvan egter nie beperk word tot ‘n geslote lys van faktore nie. Die toelaatbaarheid van getuienis is gekoppel aan die omvattende reg op 'n regverdige verhoor en daarom sal die spesifieke feite van elke saak 'n belangrike oorweging wees by die oorweging van toelaatbaarheid. Hierdie holistiese benadering tot die toelaatbaarheid van getuienis is al talle kere op die proef gestel deur die howe, onder andere deur die volgende paar interessante sake.
In S v Mark 2001 (KH) het die hof getuienis as ontoelaatbaar verklaar aangesien dit verkry is deurdat die getuies deur die polisie gemartel is. Dié getuienis is dus duidelik verkry deur die getuies se regte op ‘n wesenlike wyse te skend. Twee jaar na die marteling het die getuies egter weer verklarings afgelê. Die verklarings is deur die hof toegelaat, aangesien die hof bevind het dat die marteling nie die getuies gedwing het om op ‘n later stadium weer ‘n verklaring af te lê nie. Die kousale verband tussen die skending van die getuies se regte en die betrokke getuienis was verbreek en dus kon die getuienis wat twee jaar later verkry is, toegelaat word.
S v Naidoo 1998 (N) is ‘n saak waar die polisie toestemming verkry het om telefoniese gesprekke te onderskep, deurdat hulle doelbewus onder eed gelieg het. Dit het die polisie dus toegelaat om die beskuldigde se grondwetlike reg op privaatheid te skend. Die hof het gesê dat dit nie 'n presedent moet skep wat die deur sal oopmaak vir die polisie om inbreuk te maak op grondwetlike regte, om inligting te bekom nie. Die hof het dus bevind dat die toelating van hierdie getuienis nadelig vir die regspleging sou wees.
Die saak van S v Pillay 2004 (HHA) was gekoppel aan die Naidoo - saak aangesien Pillay by dieselfde misdaad betrokke was en die getuienis wat in Naidoo verkry is, gelei het tot die aanklagtes teen Pillay. Die hof het egter in die saak sekere getuienis toegelaat wat op 'n onwettige wyse verkry is aangesien hierdie spesifieke getuienis op 'n ooglopende plek versteek was en in elk geval op 'n latere stadium wettig gevind sou word. Daar kan dus afgelei word dat sommige getuienis wel toelaatbaar sal wees ten spyte daarvan dat dit moontlik verkry is deur van die beskuldigde se regte te skend, aangesien dit nie na ‘n onregverdige verhoor sal lei nie.
Daar was baie ander gevalle waar die howe die toelaatbaarheid van getuienis moes bepaal, maar die hoofbeginsel wat deur hierdie sake geïllustreer word, bly dieselfde. Op grond van die feite van die betrokke saak moet die belange van beide partye opgeweeg word om te bepaal of die toelating van getuienis die verhoor onbillik sal maak en of dit die regspleging sal benadeel.
Artikel deur Johan Potgieter, Kandidaat Prokureur (B.Comm; LLB)
Vir meer inligting kontak gerus vir Johan, johan@rgprok.com of 044 601 9900. www.rgprok.co.za
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’