Tydens 'n geselligheid wat by Kafe Serefé gehou is, het die bestuur van Van Rensburgs dit onomwonde gestel dat dié getroue werknemers hulle grootste bate is en dat hulle insette opreg waardeer word - veral as in ag geneem word dat die 43 werknemers in totaal 696 jaar se kennis en kundigheid verteenwoordig. Soveel ervaring moet, volgens Jan van Rensburg, behou en beloon word!
Toni Raschbichler is die persoon met die langste diensjare en sy 30 jaar aan die stuur van produkontwikkeling is beslis 'n deur-slaggewende faktor in die lewering van die puik produkte wat oor die jare tred gehou het met verbruikersvoorkeure en -tendense.
Toni, wat die kwalifikasie Master Craftsman Fleischer Meister ná agt jaar se studies in Oostenryk behaal het, het in 1984 by Van Rensburgs aangesluit.
Dina Bezuidenhout, wat 25 jaar ononderbroke diens het, onthou die beginjare saam met oom PM en ouma Lottie van Rensburg met deernis. Dit is hulle wat haar leer wors stop en vleis werk het en sy is dankbaar dat sy steeds haar bydrae kan lewer.
Met 29 en 26 jaar diens onderskeidelik is Meisie de Swardt en Cathy Heyns bekende gesigte by Van Rensburgs Foods. Cathy geniet veral die interaksie met die klante en dit is volgens haar een van die faktore wat bydra tot haar lang diensjare.
Ook Kleinbooi Femele het 22 jaar gelede onder die wakende oog van oom PM van Rensburg begin werk. Hy is dankbaar dat hy as deel van die Van Rensburg-span sy bydrae op die plaas kan lewer. Volgens Kleinbooi verstaan die span mekaar en werk hulle lekker saam.
Die personeel het ook tydens die funksie hulle dank uitgespreek teenoor Jan en Carolien van Rensburg, asook Helgé Douglas, vir die geleentheid gebied om deel te wees van dié gerespekteerde span. Die senior bestuur se leiding en visie deur die jare word waardeer.
Die betrokke personeel het elkeen 'n sertifikaat vir hulle jare diens ontvang en is op heerlike eetgoed getrakteer. Almal sien al reeds uit na 'n volgende funksie waartydens die werknemer van die jaar aangewys sal word.
Met hierdie inisiatief word uitmuntende diens beloon en werknemers wat gedurende die jaar as werknemers van die maand aangewys is, sal almal in aanmerking kom vir die titel Werknemer van die Jaar.
Daar is heerlik gekuier. Van links is Hester April (slagpale), Kleinbooi Femele (Bülida Boerdery LAM), Sindiswa Sanguni (Mr Meat), Sylvia Piyo (Bülida Boerdery VARK).
Twee bekende gesigte by Van Rensburgs Foods, Cathy Heyns (links) en Meisie de Swardt
Jan van Rensburg, Carolien van Rensburg, Toni Raschbichler en Meisie de Swardt (van links) geniet 'n peuselhappie.
Sindiswa Sanguni en Toni Raschbichler van Mr Meat
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'