GEORGE SAKENUUS - Albert Hoffmann, 'n sakereddingspraktisyn van Wilderness wat self vir 16 jaar al 'n vyfster-gastehuis bedryf, sê daar is op die wye front 'n groot afname in besigheidsaktiwiteit weens Covid-19-inperkings.
"Die toekoms is onseker en groot bekommernis heers onder verskeie besigheidsektore. Hierdie situasie veroorsaak waarskynlik twyfel en kommer by die bestuur van ondernemings oor die winsgewendheid en oorlewingsvermoë van hul besighede."
In sommige gevalle kan 'n sakereddingsproses 'n reddingsboei bied vir 'n besigheid wat sukkel om te oorleef.
"Dit is egter slegs beskikbaar vir maatskappye en beslote korporasies (BKs). Vir ander ondernemingsvorme - privaat, vennootskappe, eenmanbesighede en trusts - kan onderhandelde oplossings en skikkings help."
'n Maatskappy of BK word in die Maatskappyewet beskou as in finansiële nood wanneer dit onwaarskynlik is dat hy al sy skuld sal kan vereffen soos dit betaalbaar raak binne ses maande van enige spesifieke tyd af, of indien dit blyk dat die besigheid binne ses maande insolvent sal raak.
In so 'n geval kan die maatskappy of BK onder sakeredding geplaas word.
"Sakeredding behels die rehabilitasie van die besigheid deur tydelike toesig oor die bestuur van die onderneming en sy eiendom. Eisers het in hierdie tydperk, wat tussen drie en 12 maande kan duur, nie die reg om regstappe teen die besigheid te neem nie."
'n Reddingsplan word ontwikkel en geïmplementeer om die onderneming se sake te herstruktureer om die kans op voortbestaan te probeer verseker.
"Indien voortbestaan nie moontlik is nie, kan die plan verseker dat skuldeisers of aandeelhouers 'n beter uitkoms kry as om die besigheid summier te likwideer," sê Hoffmann.
Sakeredding verseker ook dat werknemerskontrakte onveranderd bly; dus word meer werksgeleenthede behou.
"Wat meer is, alle eise van die SA Inkomstediens word beskou as gelyklopende eise in die sakereddingsplan en nie as voorkeureise soos dit die geval sou wees tydens 'n likwidasie nie. Dit skep 'n beter scenario vir alle krediteure om óf ten volle betaal te word, óf meer as met 'n likwidasieproses."
Pleidooi vir hernieude TERS-voordele
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, het onlangs 'n pleidooi gelewer vir die herinstelling van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid-19 TERS-voordele (Temporary Employment Relief Scheme) om die impak van vlak 3-inperkings te versag.
"Die toerisme- en gasvryheidsbedryf is reeds hard getref en werksgeleenthede is besig om verlore te gaan weens die volgehoue sluiting van strande, die aandklokreël en alkoholverbod. Dit het 'n verwoestende impak op besighede en werksgeleenthede in die Wes-Kaap," het Maynier gesê.
Sy departement het reeds talle e-posse van ondernemings en individue ontvang wat oor die afgelope 10 maande uitgehou het, maar wat eenvoudig nie onder die huidige beperkings kan voortgaan om hul besighede aan die gang te hou of werknemers te betaal nie.
"Dit is eenvoudig nie regverdig om te verwag dat ondernemings in die toerisme-, gasvryheids- en drankbedrywe moet voortgaan met beperkte handel, of selfs tydens die somerpiekseisoen te sluit sonder die nodige geldelike ondersteuning nie."
Premier Alan Winde het op Dinsdag 10 Januarie in 'n aanlynkonferensie gesê die provinsie is oor die tweede Covid-golf se piek en die gesondheidsplatform het genoeg kapasiteit.
"Dit is tyd vir 'n groter deel van die Wes-Kaap se ekonomie om veilig te open om sodoende werksgeleenthede te behou."
Ondersteuningsprogram
'n Konsep-ekonomiese herstelplan vir die Tuinroete word tans oorweeg vir goedkeuring deur die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
Die plan bevat voorstelle vir verskeie ondersteuningsinisiatiewe vir die privaat sektor. Die munisipaliteit sê in 'n mediaverklaring op Dinsdag 19 Januarie dat R500 000 beskikbaar gemaak is vir toerusting en materiale vir 'n aantal uitgesoekte kleinbesighede.
Hierdie voordele sal voor einde Junie beskikbaar gemaak word. Dit is deel van 'n bestaande inisiatief van die owerheid om klein-, medium- en mikrobesighede te ondersteun.
R5 miljoen vir toerismebesighede
Die Wes-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme het ook R5 miljoen beskikbaar gemaak vir die Toerismeprodukontwikkelingsfonds. Dit sal ontwikkelingsprodukte en -ervarings ondersteun wat gekoppel is aan sektore soos kos en drank, reis en toerisme, akkommodasie, en rekreasie.
Volgens die distriksmunisipaliteit is die oogmerk om besoekersgetalle te verhoog. Die munisipaliteit wag vir 'n lys van ontvangers van geld uit die fonds. Nuwe en bestaande toerismeprodukte en -ervarings kom in aanmerking.
Die idee is om leemtes en geleenthede aan te spreek wat deur die konsep - Toerismebloudruk 2030 geïdentifiseer is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'