Video
GEORGE SAKE-NUUS EN VIDEO - Onder die vaandel van die George-sakekamer word daar nou 'n nuwe diens aan die sakegemeenskap gelewer wat probleme met administratiewe rompslomp ondervind.
Dit het op Maandag 6 September in werking getree en sal op min of meer dieselfde basis funksioneer as 'n soortgelyke instansie van die Wes-Kaapse provinsiale regering.
Dr. Willie Cilliers, ondervoorsitter van die George-sakekamer, het gesê die sakekamer het onlangs besin oor die pad vorentoe en besluit om 'n nuwe koers in te slaan. Dinge kan nie meer gedoen word soos voor Covid-19 nie.
Die nuwe fokus en visie behels onder meer:
- Om die sakegemeenskap te verenig en die plaaslike ekonomie te stimuleer;
- Om lede van die sakekamer in te lig oor aangeleenthede wat vir hulle van belang is;
- Om lede van advies te bedien as hulle navraag doen oor aangeleenthede en
- Die beskerming van die belange van die besigheidsgemeenskap.
Administratiewe rompslomp is uitgewys as 'n aangeleentheid wat aandag moet kry. As deel van die sakekamer se planne is besluit om 'n spesifieke afdeling te begin waar mense wat probleme oor rompslomp het kan registreer.
Cilliers het benadruk dat dit nie 'n klagtekantoor is nie. Dit is beskikbaar vir lede van die sakekamer en ook nie-lede.
Kyk 'n video hieronder:
Hoe werk die proses?
Iemand sal 'n aangeleentheid onder die aandag van die afdeling bring. Hy/sy ontvang dan 'n registrasienommer. Terselfdertyd moet die persoon ook 'n oplossing voorstel.
'n Sub-komitee van die sakekamer sal dit verwys na die relevante instansie soos byvoorbeeld die ontvanger van inkomste (SAID), die departement van arbeid of die munisipaliteit. 'n Vorderingsverslag sal van die instansie aangevra word.
Om seker te maak dat ander daarby baat vind, sal die oplossing bekendgemaak word sonder om die betrok-kenes se name te noem. Waar goeie diens ter sprake is, sal name wel genoem word. Volgens Cilliers is dit daarop gerig om dienslewering te bevorder en te verbeter.
Mense wat van die diens gebruik wil maak kan 044 874 3349 skakel of 'n e-pos stuur aan: redtape@georgechamber.co.za
Mary-Anne Loose, sekretaresse van die George-sakekamer, dr. Williers, ondervoorsitter en Bernadette Schaap,, bestuurder kyk op die rekenaar hoe die nuwe program funksioneer. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'