GEORGE SAKENUUS - Besighede van alle groottes word uitgenooi na ‘n merkwaardige konferensie, getiteld Business 4 Purpose, by die Shofar-kerk in George op 17 April.
“Een van die belangrike strategiese kwessies waarna ons sal kyk, deur die stories en suksesse van ons sprekers, is dat al ons besighede se bestaansredes verder strek as blote wins," sê Walter Richards, een van die konferensieorganiseerders.
Tommy O’Kennedy, besturende direkteur van Half Time South Africa, voeg by: “Meeste besigheidsmense kom by ‘n punt waar dit nie meer genoeg is om geld te maak nie. Studies wys dat meeste begin streef na meer betekenis en waarde in hulle lewens. Ons vind dat dit direk gekoppel is aan ‘n proses om God se doel vir hul lewens en besighede te ontdek en daarin te begin stap.
Amo O’Kennedy, pastoor van Shofar-kerk, voeg by, “God se fokus is altyd mense. Dit sluit beide die werkgewer en werknemer in. Sodra ons God se hart vir ons, en die mense saam met wie ons werk, verstaan, dan verkry ons toegang tot God se roeping oor ons, sowel as ‘n rykdom van hemelse bronne. Wins is noodsaaklik, maar die moderne geskiedenis wys dat rykdom alleen nooit heeltemal bevredig nie.
"Wins gekoppel aan ‘n Goddelike doelwit gaan altyd lewens verander. Dit het die kapasiteit om nasies en generasies te omskep, ongeag die grootte van jou besigheid."
Francois van Niekerk is die hoofspreker by die konferensie. Hy is die stigter van die Mergon-groep en ‘n internasionaal erkende filantroop. Die ander sprekers is Rob Spanjaard, medestigter en uitvoerende hoof van Rezco Asset Management en voorheen hoof van Sovereign Foods, Brett Johnson, stigter van The Institute for Innovation, Integration and Impact, Inc, sowel as Ena Richards, stigter en direkteur van Work 4 A Living International.
Vir meer inligting, en om te registreer, gaan na www.4purpose.africa of skakel 083 605 9321.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'