GEORGE NUUS - Taxibase is ongelukkig nadat nog 'n taxi vanoggend geskut is. Onderhandelinge is op die oomblik aan die gang om die taxi weer aan sy eienaar terug te besorg. Gesprekke het aanvanklik by die Wes-Kaapse verkeersdepartement se kantore in Yorkstraat plaasgevind, maar George Herald het intussen verneem dat dit na die kantore van die George-munisipaliteit geskuif is.
Volgens inligting wat die George Herald ontvang het, is die taxi geskut nadat verskeie taxi’s in Nelson Mandela-boulevard voor aankomende verkeer ingedruk het. Dit het by die verkeerslig op die hoek van Foundaryweg plaasgevind toe minstens drie taxi’s, voertuie aan die linkerkant verbygesteek het. Die George Herald het 'n video-opname daaroor gesien.
Xola Swapi, gemeenskapsleier van Thembalethu, het egter 'n ander weergawe vertel. Hy het by die Wes-Kaapse verkeersdepartement se kantore gesê die taxi is op die N2 naby George deur verkeersbeamptes van die George-munisipaliteit geskut. Die taxi was volgens hom van Sedgefield na George onderweg. Die verkeersbeamptes het aangevoer dat die taxi op die verkeerde roete is en nie oor 'n wettige permit beskik nie.
Die taxibase betwis dit. Volgens Swapi het die taxi en sy eienaar niks verkeerd gedoen nie. Hy beskik oor 'n wettige permit en hulle wil die taxi nou terug hê.
"As 'n taxi op die verkeerde roete is verstaan ons as die verkeersowerhede optree. In die geval was die taxi op die regte roete."
Volgens hom was daar verlede jaar probleme toe vier taxi’s sonder rede geskut is. Vir 'n paar maande daarna het dinge beter gegaan. Daarna het dinge egter skielike weer sleg begin gaan. "Die misbruik van mag het weer begin."
Volgens hom wil inwoners van Thembalethu ‘n optog hou ter ondersteuning van die Uncedo-taxivereniging. Hulle wil hê die ongelukkigheid oor die permitte moet op die spits gedryf word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'