Crystal Springs Mountain Lodge, die bekende RCI-geaffilieerde oord se tyddeel kontrakte van 20 jaar kom tot 'n einde gedurende Januarie 2015. In terme van die akte van oprigting van die eienaar, moes die eiendom per openbare veiling verkoop word aan die hoogste bieër gedurende 2014. Op 12 April is hierdie eiendom dus aangebied deur gemelde afslaers per openbare veiling op die perseel en is 'n bedrag van R68 miljoen behaal wat dadelik deur die verkopers aanvaar is.
Van meet af het die afslaers aanvaar dat die mark in die akkommodasiebedryf geteiken moet word as moontlike kopers vanweë die unieke ligging, tipe ontwikkeling en natuur van die oord, en hierdie benadering was dan ook suksesvol deurdat dit verkoop is aan 'n maatskappy wat dieselfde tipe besigheid in Suid Afrika bedryf.
Crystal Springs strek oor ±2 075 hektaar waarop 130 akkommodasie-eenhede opgerig is met volle infrastruktuur, en is daar nog 276 geleenthede vir verdere ontwikkeling.
Op dieselfde veiling is die aangrensende Mantsibi Game Ranch verkoop vir R 24 miljoen. Die bedrag is ook dadelik deur die eienaars aanvaar en die transaksie is bekragtig. Hierdie eiendom van ±2 527 hektaar is verbeter met twee gewone plaashuise en spog met pragtige laeveld natuur waarop tans met vlaktewild geboer word. Dit is onbekend wat die koper beoog om met hierdie eiendom in die toekoms te doen, maar met die eerste oogopslag blyk dit dat daar 'n groot moontlikheid is om met skaars wildspesies daarop te boer.
Die afslaers bedank alle belangstellendes, spesifiek die persone wat opgedaag het om deel te neem aan die veilingproses, en wens die kopers geluk met uitstekende aankope.
Vir meer besonderhede besoek gerus www.vanrensburgsauctions.co.za of www.crystalsprings.co.za.

'n Paar van Crystal Springs se 130 chalets wat uitkyk oor die skilderagte kranse en ander natuurskoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'