GEORGE NUUS - Kundiges en belanghebbendes het verlede Woensdag, 19 April, koppe bymekaargesit by die George-skouterrein oor die elektrisiteitsuitdagings in die streek.
Die geleentheid is deur meer as 80 mense, waaronder George-burgemeester Leon van Wyk, en adv. Gert van Niekerk, die onderburgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, bygewoon.
Dit het onder die vaandel van Business Cafe plaasgevind.
Dr. Dennis Farrell van die Business Cafe en organiseerder van die geleentheid, het gesê met die totstandkoming van die organisasie is gevra om aandag te gee aan spesifieke aangeleenthede. Daar word gehoop om vertroue te herstel. "Daar is baie wantroue in ons gemeenskap."
As daar nie saamgewerk word en kennis gedeel word nie, is dit soos dood in die water. Hy het gewys op die belangrikheid van uitvoering in maatskappye. Daar is bevind dat 70% van maatskappye planne het, maar die uitvoering faal.
Alwie Lester, buitengewone energie-adviseur vir die Wes-Kaapse regering, het gesê dit wat nou ervaar word is niks nuuts nie. Daar is al voorheen voorspel dat beurtkrag kan voorkom. Die agteruitgang van kragsentrales het nie oornag gebeur nie.
Die agteruitgang van Eskom het gelei tot die huidige krisis. Dis nie 'n eenvoudige krisis nie en gaan nie vinnig opgelos word nie.
Hy het gesê die volgende uitdaging is kragverspreiding. Dis nie net kragopwekking wat reggestel moet word nie. Kragopwekking en kragverspreiding moet gesamentlik aandag kry.
Volgens Lester behoort kragopwekking nie net op een sentrale punt plaas te vind nie. Dit kan op verskillende plekke geskied.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het 'n oorsig gegee van hoe die munisipaliteit die kragsituasie in die stad aanspreek. Volgens hom word al vir 'n aantal jare progressief gewerk om die situasie aan te spreek.
Laat in 2021 is besef dat beurtkrag 'n groot probleem is. Op munisipale vlak is groot kommer oor die ekonomie. Die onmiddellike fokus was om deur fase 1 van beurtkrag te kom. Daar is gekyk na energie effektiwiteit by munisipale eiendom en hoe verbruik afgebring kan word.
Hy het daarop gewys dat dit die munisipaliteit R250 000 per dag aan diesel kos as fase 6 in werking is.
Die munisipale kragverkope is minder as gevolg van beurtkrag en daar word verwag dat dit R101 miljoen minder gaan wees.
Nog 'n uitdaging is die impak van die verskillende fases. Vier ure is erger as twee ure. Wanneer dit vier ure is en dit word weer aangeskakel is dit benewens byvoorbeeld geisers en yskaste ook batterye wat gelaai word. Dit verhoog die krag van 85 MW.
Dit is dit die maksimum wat Eskom verskaf. Dit het al selfs gestyg na 105 en 112.
Die maksimum wat substasies kan hanteer is 120 MW.
Eskom het die munisipaliteit in kennis gestel dat as dit weer bo 85 MW styg gaan die munisipaliteit gepenaliseer word.
Dit is een van die redes waarom die krag nie oral gelyktydig na beurtkrag aangeskakel word nie.
Die booswigte buit ook die situasie met beurtkrag uit. Hulle weet die krag is af en steel dan van die kabels.
Farrell het Maandag gesê die omvang van die kragkrisis het duidelik tydens die geleentheid na vore gekom. Die geleentheid was 'n groot sukses.
Dis duidelik dat die verslapping van regulasies die opwekking van krag op kleiner skaal moontlik maak. Mense sal betrokke moet raak by kragvoorsiening. Waar hulle kan belê in sulke geleenthede moet dit verantwoordelik wees.
Volgens hom gaan 'n opvolg geleentheid gehou word waar die oplossing vir die situasie in die Tuinroete bespreek gaan word. Die plan is om dit reeds in Junie te hou.
*Lees 'n storie op bl. 18 van vandag se George Herald koerant, oor die sooispit van 'n nuwe solarenergie-plaas vir George.
Aanwesiges by die geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’