GEORGE NUUS - 'n Groot eer het dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap en ondervoorsitter van die George-sakekamer te beurt geval. Hy is op die afgelope jaarvergadering van die Institute of Business Advisors Southern Africa (Ibasa) op die nasionale raad as 'n direkteur verkies. Hy sal ook as provinsiale leier van die Wes-Kaap optree.
Die organisasie se doel is om besigheids-adviseurs, -mentors en konsultante in die kleinsake omgewing te gradeer en te akkrediteer.
Cilliers het by navraag gesê dat hy sedert 2006 lid is van die organisasie en het in 2008 ook op die raad gedien en die Noord-Kaap verteenwoordig as provinsiale leier. Ibasa bestaan reeds vanaf 2001 en is as professionele organisasie deur Saqa (South African Qualifications Authority) goedgekeur.
Volgens hom speel besigheidsadviseurs en -mentors 'n uiters belangrike rol in Suid-Afrika veral met die geweldige negatiewe impak wat Covid-19 sedert 2020 gelaat het.
Ibasa is ook direk verantwoordelik vir die volgehoue opleiding van adviseurs en mentors om deurgaans kwaliteit advies aan besighede te kan verseker.
Die stigting van nuwe kleinbesighede onder voornemende entrepreneurs en die mentor van die besighede deur die moeilike eerste 1 000 dae van besigheid is ook 'n groot prioriteit van Ibasa.
Cilliers is as Wes-Kaapse leier van Ibasa aangewys en tesame met sy rol as voorsitter van die AHi in die Wes-Kaap sal die twee organisasies mekaar baie goed kan aanvul om 'n databasis van mentors beskikbaar te stel om die besighede in die Wes-Kaap te bedien.
Strategiese beplanning in die verband sal eersdaags begin en beskikbaar gestel word vir alle sakekamers en besighede in die provinsie.
Die nuutste vlak 4 inperking gaan 'n verdere terugslag vir besighede veroorsaak en Cilliers voorsien dat korrekte advies en mentorskap aan besighede nou belangriker as ook tevore gaan wees.
Cilliers het gesê Ibasa se Wes-Kaap kantoor sal vanuit die AHI-kantoor in George bedryf word en sal die hele Wes-Kaap met sy netwerke bedien.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'