SAKE NUUS - Anlé Pretorius, wenner van die George-sakekamer se pas afgelope entrepreneursprogram, sê harde werk, onuitputlike entoesiasme, ononderhandelbare maatstawwe vir dienslewering, uithouvermoë, en ondersteuning van familie en vriende het haar gehelp om 'n suksesvolle besigheid op die been te bring.
Haar gastehuis in Geelhoutboom, Lentelus, het 16 jaar gelede 'n nederige begin gehad toe sy twee spaarkamers in hul huis en 'n kothuisie op hul plaas omskep het vir gasteakkommodasie om haarself mee besig te hou en 'n inkomste te genereer. Haar seun, Heinrich, was toe een jaar oud.
Die kamers was gereeld vol en gaste het dit so by hulle geniet, dat sy begin het om die karavaan aan te bied wanneer als vol was. "Later het ek selfs die hele huis begin uitverhuur, dan bly ons elders," vertel sy.
Dit was vir haar 'n plesier om gaste op die patio wat oor hul dam uitkyk met etes te bedien en vir hulle middagete-pakkies te maak. "En ek het dit geniet om mense van reg oor die wêreld te leer ken."
Die gasvryheidsbedryf het haar soos 'n handskoen gepas. Sy was van ouderdom 14 af in die bedryf toe sy deeltyds as kelner in restaurante begin werk het. Ná skool is sy Engeland toe waar sy verskeie werke in die bedryf gehad het.
Ongeveer vier jaar nadat sy haar eerste gaste by Lentelus ontvang het, was die volgende logiese stap om uit te brei. Pretorius het besluit die perdestalle sou gaste-akkommodasie word.
"Ek was hoog swanger met my dogter, Keziah, en die bouspan wat ek ingekry het, was pas klaar om ons huis se stoep in nog 'n kamer te omskep, toe sy daardie aand van 14 Augustus sommer tuis haar opwagting gemaak het. Toe die werkers die volgende oggend weer opdaag, het hulle amper agteroor geval toe ek by die huis uitstap en daar is die baba. Daai selfde dag het ons begin met die perdestalle," vertel sy.
Die perdestalle voor dit in akkommodasie vir gaste omskep is.
Sy het dadelik besprekings begin neem vir daardie Desember, maar die volgende vier maande was 'n uitmergelende toets vir haar uithouvermoë. Haar man, Hein, was baie oorsee vir sy besigheid en buiten vir die gastehuis en bouprojek, was sy ook verantwoordelik vir take op die kleinhoewe.
Die geld was min, so sy het vir drie maande al wat 'n veiling is bygewoon om meubels en toebehore vir die kamers te kry. "Ek moes álles aankoop, die beddegoed en tot die laaste teelepel, bedlampies en TV's - met 'n baba wat ek probeer borsvoed en 'n vierjarige kleuter om na om te sien. Ek sal nooit vergeet hoe ek agter die gastekamers staan en huil het nie, want daar was nog nie water nie en die gaste was op pad."
Sy het self die pragtige binnenshuise versiering gedoen en het die meeste van die meubels gerestoureer en geverf. "Ek is in my element as ek 'n kwas in die hand het en is mal daaroor om ou goed weer nuwe lewe te gee." Waar Hein kon, het hy gehelp en saam het hulle talle deurnagte gehad.
Daardie Desember was net die helfte van die gastekamers voltooi. Dit was eers twee jaar later, soos wat die gastehuis geld ingebring het, dat die ander kamers kon klaarkom. Die twee kamers in die huis vorm nie meer deel van die gastehuis nie, maar dit kan vandag 42 gaste akkommodeer in verskeie selfsorgeenhede. "Die meeste gaste het soos vriende geraak en bly terugkom."
Restourasie van die bestaande geboue op die kleinhoewe was 'n groot projek.
Pretorius sê sy is 'n perfeksionis en gevolglik is dit baie moeilik om take aan ander mense toe te vertrou, maar sy besef sy kan nie als self doen nie. Sy en haar kinders vorm egter 'n gedugte span. Ondersteuning van familie en vriende is noodsaaklik as 'n mens wil deurdruk.
Haar raad aan voornemende entrepreneurs is om goeie diens en goeie menseverhoudings voorop te stel. "Maak seker mense kry meer as wat hulle verwag. Glo in wat jy doen en in jouself en wees positief. Maak seker dit is jou passie en dat jy dit nie net vir geld wil doen nie. As jy jou doel uitleef, sal die geld volg."
Mentor Ina le Roux se insette
Sy sê haar mentor tydens die entrepreneursprogram, Ina le Roux, se insette en advies het vir haar ongelooflik baie beteken.
"Ek is baie opgewonde om die nuwe been van die besigheid in gastehuisbestuur te begin waar ek mense help om 'n ekstra inkomste te verdien uit gaste-akkommodasie.
Anlé by die nuwe winkel wat sy verlede jaar op die kleinhoewe begin het.
Antwoorde op 'n paar vrae:
Wat was jou grootste uitdagings om die bal aan die rol te kry aan die begin?
Ek sal sê dit was grootliks ’n kwessie van fondse. Die geld was op voordat die projek klaar was, en dan was daar natuurlik nie geld vir bemarking nie, naamborde of ’n webtuiste nie. Aan die begin (voor sosiale media so groot was) het ek iemand betaal, wat dit reeds vir ’n ander hotel gedoen het, om Kaapstad en Johannesburg toe te vlieg met bemarkingsmateriaal. Ek het gewoonlik beskuit of koekies of konfyt gemaak en dit saam met my besigheidskaartjie gestuur. Die persoon wat ek betaal het, het dan na besighede in Kaapstad, Port Elizabeth en Johannesburg gegaan en daar namens my bemark.
Ek het toe van SEDA gehoor en hulle het my baie gehelp met die webtuiste en sulke aspekte, al het ek nog nie eens boeke gehad om te toon nie.
Een van die mooi eenhede wat Anlé self versier het.
Was dit ’n skerp leerkurwe?
Vir seker. Ek moes met die minimum klaarkom en 'n sukses maak. So dit het baie oor menseverhoudings gegaan en om gaste spesiaal te laat voel. Ek het 'n groot hart vir mense en dit is vir my lekker om hulle te bederf.
Ek dink my grootste uitdaging was om als te wing saam met my kinders. Ek wou hulle self groot maak en het dit so lank gedoen as wat ek kon. My kinders was my alles, en die gastehuis ook. Elke dag het uitdagings gehad en ek het myself amper uitgebrand so 12 jaar later. Om elke liewe oggend op te staan om vroegoggend ontbyt gereed te hê, met 2 kleintjies wat aandag verg, was nie maklik nie. Die verantwoordelikheid was baie groot.
Ek het gereeld met albei kinders op die trekkertjie die groot grasperke gesny. Die gaste sou my die eendag netjies aangetrek sien terwyl ek kos bedien, die volgende dag is ek vol verf, dan is ek in die tuin besig, en dan weer het ek geen werkers nie en moet ek self inklim en skoonmaak. Soms as gaste in my huis instap, staan en stryk ek beddegoed.
Daar's baie druk as mense jou 'n klomp geld betaal en als hang van jou af om hulle so goed moontlik jy kan, te diens. Vandat hulle inry tot hulle weer daar wegry moet als 100% wees. Soos die gastehuis gegroei het, het ek net besiger geraak en 4 jaar terug besluit om nie meer etes te verskaf nie.
Wat het jy uit al jou uitdagings geleer?
Ek is sterker as wat ek gedink het. Ek kan myself en my gevoel maar vertrou. Ek het uithouvermoë wat nie einde het nie. En ek kan gelukkig wees, al voel dit of alles rondom my in chaos is.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’