Sponsored Content
SAKENUUS - ’n Volmag is ’n skriftelike dokument wat magtiging verskaf aan ’n aangewese persoon(e) (die agent) om vir en namens iemand anders (die prinsipaal) op te tree. Die agent kan wye of beperkte magtiging kry om namens sy/haar prinsipaal op te tree rakende die prinsipaal se eiendom, finansies, beleggings, ens. Hierdie artikel fokus op Volmagte in verhouding met die volmag se funksies in die koop en verkoop van onroerende eiendom in Suid-Afrika.
Spesiale en algemene volmagte
Alhoewel daar verskeie tipes volmagte bestaan, gaan ons onderskeid tref tussen Spesiale Volmagte en Algemene Volmagte.
Spesiale volmag
'n Spesiale Volmag stel die agent in staat om slegs een handeling te rig, byvoorbeeld om onroerende eiendom te verkoop en oor te dra. Die Volmag verval by voltooiing van die handeling en word nie in die Aktekantoor geregistreer nie. In hierdie scenario kan twee tipes spesiale volmagte verleen word – “volmag om eiendom te verkoop en oordragdokumente te teken” – die genomineerde agent is gemagtig om eiendom te verkoop en die oordragdokumente namens sy/haar prinsipaal te onderteken en “volmag van prokureur om oordrag te gee” wat 'n aktebesorger magtig om die oordrag van grond of 'n verband op grond in die aktekantoor te registreer. Albei die volmagte sal verval na die voltooiing van die handelinge soos gespesifiseer in hierdie Spesiale Volmagte.4
Algemene Volmag
'n Algemene Volmag is in werklikheid 'n samestelling van Spesiale Volmagte wat in 'n enkele dokument vervat is. 'n Algemene Volmag verval nie noodwendig na 'n enkele handeling nie. In onroerende eiendom-oordragte word die Algemene Volmag in die aktekantoor geregistreer. Indien genoemde Algemene Volmag nie geregistreer is tydens die eerste gebruik nie, sal dit, soos 'n Spesiale Vomag, verval en kan nie vir die oordrag van 'n ander onroerende eiendom gebruik word nie.
Algemene Volmagte verleen gewoonlik verskeie handelinge wat deur die agent namens die prinsipaal uitgevoer kan word, wat normaalweg die hantering van die prinsipaal se finansies insluit. Sommige banke, regeringskantore en ander instansies wat finansiële sake hanteer, aanvaar nie algemene volmagte nie weens gereelde misbruik van magte. Hierdie finansiële instellings stel hul eie volmagte op wat aanvaarbaar is volgens hul standaarde.
Ondertekening van volmag buite die Rebubliek Suid-Afrika
Namate die wêreld toeganklik geword het, het meer Suid-Afrikaners werk in die buiteland begin soek. Buitelanders koop ook meer eiendom in Suid-Afrika en dit is dus nie altyd moontlik om fisies teenwoordig te wees wanneer jou oordragdokumente by ‘n oordragprokureur geteken word nie. In hierdie gevalle kan 'n Volmag 'n handige hulpmiddel wees. Dit is egter moeiliker as jy jou Volmag buite die grense van Suid-Afrika onderteken.
'n Volmag word deur die prinsipaal toegestaan (geteken) met twee bevoegde getuies wat die prinsipaal se handtekening bevestig. Volmagte wat buite die Republiek van Suid-Afrika onderteken is vir gebruik in Suid-Afrika, moet behoorlik gewaarmerk word deur die proses óf soos uiteengesit in Reël 63 van die Hooggeregshofreëls óf soos bepaal in die “Convention Abolishing the Requirement of Legislation for Foreign Public Documents” (die verifikasie proses). Die plek (land) waar jy jou dokumente teken, sal die verifikasieproses bepaal wat gevolg moet word. Dit kan 'n duur en tydsame uitstappie wees. Indien die verkeerde verifikasie prosedure gevolg word, sal dit lei tot 'n verwerping in die Aktekantoor wat jou oorlaat om jou dokumente, met die korrekte verifikasieproses, van voor af te onderteken. Dit is dus van die uiterste belang om die nodige reëlings te tref om jou Volmag te laat onderteken terwyl jy nog in SA is of om goeie leiding van jou prokureur te kry indien jy in die buiteland sou teken.
Beëindiging/Duur van 'n volmag
Soos hierin bespreek, kan 'n Volmag bepaal dat die agent beperkte mag het en slegs 'n sekere handeling(e) kan verrig. Sodra die handeling voltooi is, kan die Volmag nie meer gebruik word nie. As jy aan jou agent 'n Spesiale Volmag toestaan om oordragdokumente vir die verkoop van jou eiendom te onderteken, en jou agent het hierdie aksie voltooi, het die spesiale volmag sy doel gedien en kan dit nie vir enigiets anders gebruik word nie. Volmagte kan 'n vasgestelde beëindigingsdatum of tydsduur hê waarvoor dit van krag is. Volmagte kan ook beëindig word indien dit uitdruklik herroep word en sal outomaties verval indien óf die agent óf prinsipaal verstandelik ongeskik raak of sterf.
Hoe om 'n volmag op te stel
Volmagte het geen voorgeskrewe formaat nie, hoewel die Aktekantoor sekere vereistes het indien die Volmag vir die oordrag van onroerende eiendom gebruik word en by die Aktekantoor ingedien word.
Met 'n eiendomsoordrag sal jou Aktebesorger verseker dat die Volmag in ooreenstemming met die aktekantoorvereistes opgestel word. As jy 'n agent wil aanstel om jou sake d.m.v. 'n Algemene Volmag te bestuur, maak seker dat jy 'n prokureur kontak wat jou sal kan bystaan met die opstel van jou Volmag om te verseker dat jou ware bedoelings uiteengesit word, jou bates en belange beskerm word en om te verseker dat finansiële wanbestuur voorkom word.
Artikel deur Lorandi van der Merwe, Assosiaat (BCom, BCom Hons, LLB)
Vir meer inligting kontak gerus vir Lorandi by lorandi@rgprok.com of 044 601 9900.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’