GEORGE NUUS - Doug Johnson van Lemon Leadership, gasspreker by Tuinroete Arbeidsbediening se jaarlikse galadinee verlede Donderdagaand, het 'n inspirerende boodskap oor verantwoordelike leierskap in besigheid gelewer.
Hy het Christen-werkgewers daarop gewys dat hul werkomgewing 'n bedieningsveld is. "'n Mens se werk is jou bediening. Ek hoef nie die wêreld te verander nie. Ek moet my wêreld verander deur dit wat ek geroep is om te doen."
Hy het gesê die kerk het die bediening uit die markplek na die kerkgebou geskuif, terwyl dit juis andersom behoort te wees.
Die voorsitter van Tuinroete Arbeidsbediening, ds. Floors Meyer, het sy jaarverslag voorgelê. Volgens hom het die bediening tans 13 geestelike werkers wat ongeveer 300 mense by 42 punte op 'n weeklikse basis besoek.
Deel van Arbeidsbediening se uitreik na mense in die werkplek is die aanbieding van die Brightstar-program wat gemik is op die ontwikkeling van werknemers se vaardighede. Volgens die programaanbieder, ds. AJ De Mist van Zijl, is daar 'n groot leemte in die plaaslike arbeidsmark.
"Dit kom voor asof arbeiders, veral op die laer vlakke, met druk aangewend word vir 'n produktiewe doeleinde sonder enige werklike belangstelling om hulle verder te ontwikkel. So ontmoet 'n mens, veral in sekere gemeenskappe, vele persone wat hulle lewens gegee het in diens van die maatskappy, maar in al daardie jare geen tot min opleiding ontvang het."
Volgens Van Zijl word die min werknemers wat wel opleiding ontvang, nie versterk in hul menswees nie, maar slegs verder geskool met 'n spesifieke produksievaardigheid in gedagte. Dit is waar die Brightstar-program die prentjie kan verander deur mense te bemagtig om "hul beste self te wees" (gefokus, doelgerig, selfgedissiplineerd en selfgedetermineerd), om beter verhoudings te handhaaf, en om uiteindelik as leiers vorentoe te tree en 'n inspirerende rolmodel in die werkplek te wees.
Belangstellende besighede kan Betsie Fourie kontak by Arbeidsbediening se kantoor in George by 044 884 1404 of per e-pos by arbeidsbediening.tuinroete@gmail.com.