SAKE - Die Vrouenetwerk, gedryf deur die entrepreneur Annelize Blom, het vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie ’n netwerkgeleentheid aangebied.
Met behulp van AfriForum Sakenetwerk se inkoop, het nagenoeg 110 vroue, wat almal hul eie ondernemings het, op 1 November by die Anna Beulah-plaas net buite Durbanville bymekaargekom.
Vroue kon bande met eendersdenkende vroue bou en sommiges het hul ondernemings ten toon gestel. Magriet Groenewald, ’n sosiale media-kenner, het aan die gaste verduidelik hoe om sosiale media vir hulle te laat werk.
Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, het ook die entrepreneurs toegespreek en die belangrikheid van goeie netwerke en verhoudings in die bedryf benadruk. AfriForum Sakenetwerk, ’n landwye netwerk waar entrepreneurs mekaar kan opspoor, aanspoor en ondersteun, was saam met Akademia een van die hoofborge van die geleentheid.
“Dis belangrik vir AfriForum Sakenetwerk om deel te wees van netwerke soos hierdie, waar die impak wat ondernemings op hul gemeenskappe het en die verskil wat dit maak, duidelik sigbaar is," sê van der Walt.
"Dis’ n riem onder die hart om te sien hoe ondernemings mekaar ondersteun en opbou. Wanneer ondernemings die waarde van samewerking sien, is dit ook waar jy sien hoe gemeenskappe verbeter,” sê Van der Walt.
Therese d'Assonville van Akademia, Sanderien van der Walt van AfriForum, Anri Boshoff van Akademia en Annelize Blom, die stigter van Vrounetwerk.
Blom, wat Vrouenetwerk vyf jaar gelede op die been gebring het, sê die vroue het die stories en aanbiedings behoorlik ingedrink. “Ek het net weereens besef hoe groot die behoefte aan só ’n samekoms vir vroue in die besigheidswêreld is.
"Vrouenetwerk se doelwit is om entrepreneurs aan te moedig, by te staan, en in ’n veilige omgewing, sonder ongesonde kompetisie en veroordeling, ’n gevoel van samehorigheid te kweek. Die pad van ’n entrepreneur is geïsoleerd, maar met hierdie platform vorm entrepreneurs ’n gemeenskap waar hulle nie meer alleen is nie,” sê Blom.
Eienaars van ondernemings, borge en organiseerders.
Die volgende Vrouenetwerk-geleentheid word reeds vir vroeg volgende jaar beplan. Vroue met ondernemings in die Wes-Kaap, kan Vrouenetwerk op sosiale media volg om te sien waar en wanneer die volgende geleentheid plaasvind.
Sowat 110 besigheidseienaars het die geleentheid bygewoon.
Om deel te word van AfriForum Sakenetwerk, besoek www.afriforumsakenetwerk.co.za en registreer jou onderneming gratis.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’