GEORGE NUUS - Die Spoor Angus-stoet van Leon van Rooyen en Andrew Moolman van George het by die pas afgelope Riversdal- en Swellendam-landbouskoue skitterend gevaar en die botoon gevoer in verskeie van die klasse en kampioenskappe.
By Riversdal-skou, waar agt beesrasse teenwoordig was, het Spoor die titels, Interras Opperste Kampioen Vleisras Vroulike Dier, Junior Kampioen Rooi Angus Vroulike Dier asook die Groot Kampioen Rooi Angus Vroulike Dier ingepalm. 'n Jong swart bulletjie was die Kalfkampioen asook die Opperste Kampioen Swart Bul van die skou.
By die Swellendam-skou is die titels, Senior Kampioen Swart Vroulike Dier, Reserwe Groot Kampioen Swart Vroulike Dier en Junior Kampioen Rooi Angusvers ingepalm. Benewens hierdie groot titels het Spoor nog verskeie ander klasse en kampioenskappe by beide skoue gewen.
Die boerdery is geleë in die Groot-Brak-area waar die koeie op harde taaipolweidings wei en hulle kalwers grootmaak, sê Van Rooyen.
"Goeie rekordhouding van beide embriokalwers en stoetkalwers word deurgaans gehandhaaf waar speengewig, groeivermoë en seleksie fenotipies baie belangrik is en wat dan gerugsteun word deur die gene wat ons probeer vaslê in die diere."
Hy skryf die sukses van die stoet toe aan passie, jaarlikse embriospoelings, seleksie van genetika en omvattende kennis van die beesras en van die teelmateriaal wat in die wêreld beskikbaar is.
Die koei Spoor LVR 23 01 was die junior opperste kampioen by die Swellendam-skou asook die junior kampioen en groot kampioen rooi vroulike dier by die Riversdal-skou. Links staan Leon van Rooyen van die Spoor-stoetery.
"Ons voer al die semen in om uniek te wees en iets spesiaals in die mark te kan aanbied. Die doel is om kwaliteit, geharde en funksionele vleisbulle aan die kommersiële boere te verkoop, en die bulle verkoop goed."
Hulle beoog om in 2026 'n Suid-Kaap Angus-veiling te hou waarin hulle manlike en vroulike diere sal aanbied. "Ons skou graag ons diere, want dit gee goeie blootstelling en wys mense watter klas diere jy aanhou.
"Tweedens help dit om 'n norm vir jouself te kry om te kyk waar jy staan in die bedryf. Ons weet ons is suksesvol, want ons ding mee met die land se bestes."
Van Rooyen het in 1999 met die Angus-beesras in die Suid-Kaap begin boer. "Hier is deesdae al heelwat stoettelers in die Suid-Kaap met 'n groot aantal kommersiële boere wat die stoetbedryf ondersteun.
"Daar is ook 'n gesonde vleishandelsmerk in die dorp wat aan meeste van die mense bekend is. Dit het ons Angus-boere ook gehelp op die been kry saam met die betrokke handelaar, Van Rensburgs Foods."
Spoor LVR 18 17, die senior kampioen koei by die Swellendam-skou met Leon van Rooyen van Spoor naasregs.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’