GEORGE NUUS - 'n Plaaslike boer, Berrie Botha en sy seun, Barry, ly groot finansiële verliese weens snotsiekte wat hul Jerseykoeie die een na die ander plat trek. Sedert Julie verlede jaar het hulle nege diere verloor - een dragtige Simmentaler-stoetvers en agt melkkoeie waarvan sewe Jerseystoetkoeie is.
Hulle het nog koeie geïdentifiseer wat in hierdie week sal vrek.
Volgens Botha senior het hulle verlede jaar aanvanklik weens onkunde oor die siekte en hoë koste verbonde aan toetsing, nie toetse laat doen op verskeie diere wat gevrek het nie. "In verlede jaar is 11 verse en nege kalwers dood. As jy 'n R3 000 se vers verloor en dit kos jou R5 000 vir toetse, is jy versigtig om wild en wakker te toets, maar toe die eerste volwasse Jerseybees siek raak, het ons almal begin toets."
Die Bothas se veearts, dr. Muller Strydom, het bevestig die diere is positief getoets vir die wildebeesstam van snotsiekte. Snotsiekte word deur blou- of swartwildebeeste aan beeste oorgedra, soos in die Bothas se geval, maar ook deur skape. Dis 'n dodelike siekte en word veroorsaak deur 'n virus waarvan daar ook 'n skaap-geassosieerde stam is.
Botha sê hulle het die afgelope paar maande baie slapelose nagte beleef. Hulle hou die beeste met arendsoë dop vir vroeë tekens van besmetting.
"Dis 'n ramp. Daar's net mooi niks wat ons kan doen nie."
Die George Herald het hul plaas, Riverside, in die Glentana-omgewing verlede week Donderdag besoek toe inspekteur Henrico Pypers van die Dierebeskermingsvereniging twee koeie van kant gemaak het om hulle uit erge lyding te verlos.
Hulle kon nie meer regop staan nie. 'n Derde koei wat gedurende die vorige nag dood is, het nog eenkant opgekrul gelê.
Barry Botha junior meet een van die siek koeie se temperatuur. Van links staan Henrico Pypers, inspekteur van die DBV wat twee koeie tydens sy besoek aan die Bothas se plaas verlede Donderdag van kant gemaak het, plaaswerker Jan Afrika, en Berrie Botha senior. Foto's: Alida de Beer
Botha sê van die diere verloor tot die helfte van hulle liggaamsmassa voor hulle vrek, wat binne 'n week is. "Dis vir ons erg traumaties om ons diere so te sien ly. Ons moet eers bloedtoetse doen voor ons hulle van kant maak."
Volgens Strydom was geen behandeling vir snotsiekte tot dusver suksesvol nie. Aangesien dit deur 'n virus veroorsaak word, is antibiotikum nie effektief nie en geen entstof is beskikbaar nie. Die meeste wildebeeste dra die virus, maar dit is net wanneer hulle aan stres blootgestel word, soos byvoorbeeld met gevangeskap, kalwing of baie hoë omgewingstemperature dat hulle die virus afskei. Hulle word nie self siek nie.
Die beeste hoef nie fisies in kontak te wees met die wildebeeste nie - die virus kan oor 'n paar honderd meter versprei via druppels in die lug of moontlik ook via insekte.
Hy sê daar is geen bewyse dat beeste mekaar kan aansteek nie aangesien die getal viruspartikels in die neus- of oogafskeidings van beeste baie laag is en dan wel in die slymvliesselle is, teenoor die vry viruspartikels wat deur wildebeeste in baie hoë getalle afgeskei word. "Dit word nou algemeen aanvaar dat daar ten minste een kilometer afstand tussen wildebeeste en beeste moet wees om te voorkom dat die virus beeste infekteer."
Volgens Botha het 'n buurplaas 'n paar jaar gelede blouwildebeeste ingebring, maar die laaste van dié diere is ongeveer twee weke gelede verwyder. Die wildebeeste is binne een kilometer van die Bothas se beeste aangehou.
Die simptome van snotsiekte begin met 'n baie hoë koors. Dit word sigbaar drie tot sewe weke na blootstelling aan die virus. Strydom sê die bees toon 'n erge slymerig-etterige neus- en oogafskeiding, ontsteking van die horingvlies en membrane om die oë met gevolglike verkleuring van die horingvliese, soveel so dat die diere nie kan sien nie, en laastens, vergroting van die limfknope. Dis 'n aanmeldbare siekte en dus moet elke geval aan die staatsveearts gerapporteer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'