GEORGE NUUS - 'n Skerp toename in die verbruik van rooivleis onder Suid-Afrikaners oor die volgende dekade sal produsente noop om meer effektief te produseer te midde van uitdagende omstandighede.
Dit is volgens Ian Terblanche, 'n navorser by die Wes-Kaapse landboudepartement, wat Dinsdag by 'n rooivleisinligtingsdag van die departement gepraat het. Terblanche het gesê ontwikkelende lande se per kapita verbruik van rooivleis sal na verwagting toeneem van 7,1 kg (per jaar) na 8,1 kg teen 2030. In dieselfde tydperk word verwag dat verbruik in Suid-Afrika met 19% sal groei. Teen 2027 sal Suid-Afrikaners na raming 140 000 ton meer beesvleis verbruik vergeleke met 2017.
"Ons sal produksie moet opstoot en dit sal waarskynlik onder al moeiliker omstandighede wees in die lig van klimaatsverandering en reënvaltendense. Ons sal moet kyk om vleisbeesboerderystelsels te verbeter. Marges is reeds laag. Boere is prysnemers en produksiestelsels moet daarby aanpas."
Boere van oral in die distrik het die inligtingsdag by die Outeniqua-navorsingsplaas bygewoon. Die fokus het geval op effektiewe bestuur om marges en produksie te verbeter midde-in ekonomiese uitdagings en waterskaarste.
'n Studie wat Terblanche vir sy MTech-verhandeling doen, het 'n tendens uitgewys waar speenkalwerpryse oor die afgelope agt jaar 'n skerp styging in die somermaande toon met 'n piek in Desember, waarskynlik weens Suid-Afrikaners se braaigewoontes. Pryse neem skerp af tussen Maart en Junie, wanneer baie produsente diere slag om gereed te maak vir die wintermaande. Die variasie in pryse tussen die winter en somer is so hoog soos 27%. Pryse vir A-graadbeesvleis is egter deur die jaar baie meer stabiel. Terblanche wil met sy studie bepaal wat die optimale bemarkingsperiode vir speenkalwers is tussen Januarie en Desember.
Gaste en sprekers by die rooivleisinligtingsdag by die Outeniqua-navorsingsplaas, van links: Manie Grobler (spesialislandbouraadgewer, spreker), Ryno Duvenhage (Olympia Skool), dr. Bennie Grobler (veearts van Beaufort-Wes, spreker), dr. Chris de Brouwer (van die landboudepartement se direktoraat veekunde) en Johan Mouton (spreker). Foto: Alida de Beer
Prestasiemeting 'n moet
Manie Grobler, spesialislandbouraadgewer by die departement, het in sy praatjie gesê 'n mens kan nie in die 21ste eeu boer sonder om prestasiemeting te doen nie. Deur "blindelingse" bestuur, sal 'n boer verloor. Deur middel van 'n studie wat met behulp van BTech-studente van die Nelson Mandela Universiteit van rooivleisproduksie in die Eden-gebied gedoen is, is getoon dat baie rooivleisprodusente beter kan presteer en hoër marges kan behaal.
Veral in die lig van droogte, moet die boerderybestuurder alle faktore van produksie optimaliseer om die beste produk per rand inset te verseker, het Grobler gesê.
Ekonomie per hektaar moet geoptimaliseer word; dus moet die boer soek na diere wat effektiewe grasomset toon en die beste ekonomiese resultate lewer op die beskikbare hulpbronne.
Verskeie ander sprekers het onder meer oor droëlandweiding, kunsmatige inseminasie, skaapvoer-kraalafronding, en die uitgroei van verse en aanvullings gesels.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'