Nog boere uit die George-omgewing het na vore getree en daar word tans lusern op die lande gesny en gebaal.
Volgens Nico Gerber, die boer van Hoekwil wat die droogtehulp geïnisieer het, het die berig "wêrelde oopgemaak" vir hulle pogings om vervoer in die hande te kry nadat boere in die streek 'n groot hoeveelheid voer geskenk het.
'n Trok van J & J Carriers van Rustenburg is op pad na George om vandag 'n vrag voer te laai nadat dit 'n vrag in Port Elizabeth afgelaai het.
"J & J Carriers stuur Donderdag nog 'n trok. Ons is ongelooflik dankbaar vir die oorweldigende reaksie. Oos-Kaap Vervoer het laat weet hulle het ook vragmotors beskikbaar. Time Freight het 'n trok per dag beskikbaar gestel. Ons moet net uitwerk hoe ons die bale by hul depots gaan kry en hoe hulle dit weer gaan oplaai. Ons het gedink om die klein bale na hulle te neem omdat hulle dit makliker kan laai. Mouton Vervoer van Oudtshoorn laai ook Donderdag 'n vrag."
"Die ouens is bereid om 'n hengse ompad te ry om voer te laai. Een maatskappy van Oos-Londen gaan Humansdorp toe om daar te laai," sê Gerber.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'