LANDBOU NUUS - Boere en plaasbestuurders in die George-omgewing kry op Dinsdag 24 Maart die geleentheid om eerstehands te sien hoe praktiese landboutegnologie administrasie kan verminder en besluitneming kan verbeter wanneer die AgriTech Solutions mini-ekspo by Redberry Farm aangebied word.
Die geleentheid fokus op eenvoudige, toepaslike oplossings wat maklik op plase geïmplementeer kan word.
Volgens Maydiene Peter, besigheidontwikkelingsbestuurder by WorkLight Solutions, hoef tegnologie nie ingewikkeld te wees om ’n verskil te maak nie.
“Tegnologie gaan nie oor groot modewoorde nie; dit gaan daaroor om dieselfde werk in minder tyd en met minder kopseer te doen,” sê sy.
Namate tegnologie ’n al hoe groter rol in die landboubedryf speel, volg plaaslike produsente ook die wêreldwye tendens om velddata vinniger en meer doeltreffend in praktiese besluite om te skakel.
Met verbeterde netwerkdekking in landelike gebiede en meer toeganklike digitale oplossings, gebruik boere toenemend tegnologie om hulpbronne beter te bestuur en produktiwiteit te verhoog.
Deelnemers sal tydens die mini-ekspo verskeie demonstrasies en praatjies bywoon wat wys hoe tegnologie werklik waarde op die plaas kan toevoeg.
Daar sal aanbiedings wees oor hoe presisieboerdery in die praktyk werk - van oes en verpakking tot produktiwiteitsbestuur.
Daar sal ook 'n fokus wees op tegnologie wat administrasie vereenvoudig en meer tyd vir produktiewe werk ontsluit, asook 'n demonstrasie oor hoe mensebestuursdata benut kan word om beter besigheidsbesluite te neem.
Die ekspo duur van 08:30 tot 13:00. Bespreking is noodsaaklik aangesien daar ’n beperkte aantal kaartjies beskikbaar is.
Belangstellendes kan kaartjies via Quicket bespreek deur te soek vir “WorkLight Solutions AgriTech George”, of Liesl Carstens kontak by 082 301 8000 vir meer inligting.
Die geleentheid is gemik op boere, plaasbestuurders, menslikehulpbronbestuurders, finansiële bestuurders en ander besluitnemers in die landbousektor wat tegnologie op ’n praktiese manier wil gebruik om tyd en hulpbronne te bespaar.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’