Die graad 10-leerders is volgens hulle vakkeuse in twee groepe verdeel. Die Landbouwetenskap-leerders het onderrig in georganiseerde landbou en vergaderingsprosedure by mnr. Johan Bothma van Agri Wes-Kaap ontvang. Die res van die klas wat die vak Landboutegnologie neem, het 'n draadspankursus gedoen soos deur Cape Gate aangebied.
Die graad 11-leerders wat die vak Landboubestuurspraktyk neem, kon tussen 'n suiwel- en die skaap-en-wolkursus kies. Die suiwelgroep het lesings en praktiese aanbiedings deur Eco Lab ontvang waar verskeie kundiges hulle meer oor die praktyk van teling, voeding, melkwinning en melkstalbestuur geleer het. Die res is deur BKB in wolklassering onderrig waarmee hulle uiteindelik die gesogte Springbokkop-wolklassertifikaat sal kan verwerf.
Rekeningkunde-leerders het weer 'n Pastel-kursus, aangebied deur mnr. Tommie Dixon, gevolg wat hulle in staat sal stel om die boekhouding op plase en ander besighede te kan doen. Die graad 11-leerders wat Lewenswetenskappe neem het die uiters gewilde Wild-en-natuurlewebestuurskursus wat vanjaar deur Garden Route Game Reserve aangebied is bygewoon. Die prakties is ook op die perseel van Garden Route Game Reserve gedoen. Besoek is ook afgelê op die buffelplaas van mnr. Lindsey Hunt. Daar is baie klem gelê op wildbewaring en -bestuur.
Al die kursusse word geassesseer en die leerders sal aan die einde van die jaar in elke vak 'n punt ontvang en 'n sertifikaat sal aan die suksesvolles uitgereik word. Oakdale bedank al die maatskappye vir hul aanbieding van die kursusse by die skool.
Die groep leerders wat die Wolkursus bygewoon het.
'Ons bring jou die nuutste landbou nuus'