LANDBOU NUUS - Die Wes-Kaapse landbouminister, dr. Ivan Meyer, was vandeesweek in gesprek met finansiële instellings en landboubesighede om 'n werkbare model vir die bestuur van die voortslepende droogte te bespreek. Die gesprek is belê deur Agri Wes-Kaap.
Volgens 'n verklaring van Agri Wes-Kaap, het Meyer gesê landbou in die provinsie het 'n langtermynplan nodig om die sektor volhoubaar te hou. Hy het onderneem om fondse te bewillig om 'n langtermynstudie met betrekking tot die invloed van klimaatsverandering op landbou in die Wes-Kaap te doen.
"Hierdie is nie net 'n droogte nie, dit is 'n nasionale klimaatsramp," het hy gesê.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het gesê met die droogte wat in sekere dele van die provinsie al in 'n vyfde jaar is, is dit noodsaaklik dat alle rolspelers moet saamwerk om die ekonomiese realiteit wat dit vir landbouprodusente meegebring het, te bestuur.
Produsente van langtermyngewasse, volstruise en wild kwalifiseer nie vir die regering se droogtehulp nie en humanitêre hulp aan droogtegeteisterde plaasgemeenskappe is nou krities nodig.
Register van boere in die provinsie
Meyer het vandeesweek ook 'n Produsent/Boerregister bekendgestel wat ressorteer onder die Wes-Kaapse departement van landbou, volgens 'n verklaring van die departement.
Dit sal as 'n basis dien vanwaar landbouprestasie gemeet en betroubare data verskaf kan word rakende die aantal kleinboere en hulle geografiese ligging en landbouaktiwiteite. So kan prestasieaanwysers ontwikkel word.
Die departement beplan om die registrasie van boere, ook kommersiële boere, teen 31 Maart 2020 af te handel.
Volgens Meyer sal die register die kwaliteit van ondersteuning en dienste van die regering aan die sektor verbeter. Dit sal ook 'n verwysingsraamwerk vir boere en die regering daarstel met die jongste inligting wat gebruik kan word vir opnames en beplanning in die sektor.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'