GEORGE NUUS - 'n Nuwe toegeneentheid en vriendelikheid jeens die landbou word die afgelope tyd deur mense in die bedryf beleef en ervaar. Dit is deur landbouleiers bevestig en kom teen die agtergrond van die Covid-19-situasie waar nieteenstaande ander groot uitdagings, landbou voortgaan om in die voedselbehoeftes van die land te voorsien en ook skenkings te maak.
Christo van der Rheede, adjunk uitvoerende hoof van Agri SA, het gesê geweldig positiewe reaksie oor landbou is die afgelope tyd ontvang. Daar is genoeg voedsel en dit word nie weggegooi nie.
Dit help met nasiebou en mense kyk nou met ander oë na landbou. Die pandemie en die gepaardgaande stappe, het ekonomiese risiko's, maar landbou hanteer dit goed. Dit is tot voordeel van alle mense ongeag hul ras, taal, geloof en kultuur.
Volgens hom gee dit ook praktiese uitvoering aan Artikel 27 van Suid-Afrika se Grondwet wat bepaal dat alle mense toegang tot voedsel moet hê. Miljoene Suid-Afrikaners besef die ongelooflike rol wat landbou speel. Boere besef ook die belangrikheid van georganiseerde landbou met organisasies soos Agri SA.
Landbouleiers in die Suid-Kaap het ook positiewe belewenis oor hul bedryf bevestig.
Henry Meyer, Tuinroete-streekverteenwoordiger van Agri Wes-Kaap en iemand wat self boer, het gesê die eerste keer in 'n lang tyd besef baie mense wat die rol van landbou is. Die landbougemeenskap produseer voedsel en skenk dit ook aan dié wat dit nodig het. Die feit dat plaaswerkers kon aanhou werk het baie gehelp. Die landbougemeenskap sluit boere en plaaswerkers in.
Die jongste situasie het gewys dat landbou ook 'n menslike kant het. Al gaan dit swaar, soos byvoorbeeld tydens droogte, is die landbougemeenskap steeds bereid om te help. Volgens hom voorspel dit goed vir die toekoms. "Ons hoop dit bly so."
Hy is dankbaar vir gemeenskappe wat steeds bereid is om landbou te steun.
Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, het gesê daar is beslis 'n groter besef vir die belangrike rol wat landbou speel. Hy boer ook self.
"Ek ervaar dit waar ek beweeg en ons (in die bedryf) kan gemaklik beweeg. Landbou probeer regtig en sy beeld het beslis verbeter."
Voorts is daar produkte wat aanvanklik nie as krities belangrik beskou is nie wat 'n knou gekry het, soos volstruisvere en -velle, asook wol en sybokhaarprodukte. Dit kan selfs daartoe lei dat 'n paar skeergeleenthede gemis word as gevolg van die winter wat wag. Dit sal dan moet oorstaan tot die lente.
Deon Barnard, 'n boer van Waboomskraal, stem saam dat die beeld van landbou verbeter het. "Daar is beslis 'n toegeneentheid."
Hy glo dat landbou self meer kan doen ter wille van sy eie bekendstelling van die bedryf. "Daar is mense wat dink landbouprodukte kom van 'n winkel en nie die landbou nie."
People in agriculture have been experiencing more goodwill in the past few weeks. According to leaders and stakeholders it seems as if people are realising the importance of agriculture. The image of agriculture has improved. Contributing factors include the fact that, in a time of huge challenges, food is still being produced and even donated to people in need.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'