Video
GEORGE NUUS - Die Agri Expo Wes-Kaap Jeugskoukampioenskappe wat gister, Woensdag 21 Maart, by die George-skouterrein plaasgevind het, was 'n groot sukses.
'n Totaal van 179 kinders van oor die Wes-Kaap het hulle beste voetjie voorgesit en gewys hoe hulle beeste, perde, bokke en skape kan hanteer, en ook knap in die kombuis kan voorvat.
President van die Outeniqua-skougenootskap, Gert Pretorius, was ingenome met die verloop van die skou en het gesê dit is 'n eer vir die genootskap om vir die tweede keer die gasheer vir die kampioenskappe te wees.
Deelnemers moes hard werk en punte oor 'n tydperk van 'n jaar opbou by die nege streekskoue in die Wes-Kaap om vir hulleself 'n plek in die arena te verseker.
Daar was 12 kategorieë. Die wenners, wat gisteraand ná die koerant se saktyd aangekondig is, dring deur na die nasionale kampioenskappe wat gedurende die Oktober-skoolvakansie vir die heel eerste keer in die Suid-Kaap hier in George plaasvind. Bykans 500 deelnemers word dan verwag.
Breyton Milford, voorsitter van die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskappe wat by gister se geleentheid was, het gesê die standaard van inskrywings was geweldig hoog.
Hy was tevrede dat die George-skouterrein se fasiliteite hulle goed daartoe leen vir die aanbied van die skou.
Kyk 'n video hieronder:
Hayley Morris wag vir die beoordelaars.
Dadrey-Ann Snell, 'n deelnemer in die Junior Junior-kookafdeling, is handig agter die stoof. Die tema in die kookafdeling was 'Melk en Heuning', wat met Outeniqualand geassosieer word en die junior juniors se taak was om 'Ontbyt in 'n glas' voor te berei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'