Video
LANDBOUNUUS EN VIDEO - Landbouleiers en werkers op plase in die streek maak seker dat daar nog elke dag kos beskikbaar is, maar daar is baie uitdagings.
Dit sluit in die bekamping van die koronavirus en die inperkings wat daarmee gepaardgaan, maar die voortslepende droogte gaan op die lang duur die grootste gevolge op landbou hê - selfs meer so as die virus.
Dit is die mening van baie boere in die Suid-Kaap, maar Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van AgriSA het vroeër die week gepleit vir 'n 0% rentekoers op lenings vir boere asook 'n betalingsvakansie op skuld van een jaar om die impak van Covid-19 te oorkom.
Joey Potgieter, voorsitter van Agri Klein Karoo, sê gelukkig kon groenteplantjies betyds geplant word en volstruise word geslag. Die vleis is in die winkels beskikbaar. Veeveilings gaan ook voort. 'n Dilemma waarmee die volstruisbedryf sit, is dat vere en leer nie kan beweeg nie en dit het kontantvloei implikasies. Van die mense in die gebied het ook betrokke geraak by eko-toerisme en hulle voel dit nou baie erg.
Daar is mense wat sukkel om kop bo water te hou en van die boere maak planne om te oorleef.
Henry Meyer, Tuinroete-streekverteenwoordiger van Agri Wes-Kaap, sê daaglikse voedselproduksie gaan voort en hy voorsien nie voedseltekorte nie. Hy boer self in die Brandwag/Ruiterbos-gebied naby Mosselbaai. Soms is dit wel moeilik om sekere produksiemiddele te bekom. Daarby is een van die groot uitdagings die vervoer van werkers.
Hy sê ook die droogte kan druk plaas op die lewering van voedsel.
Jannie Stander, bekende melk- en groenteboer van George, sê daar is elke dag werkers op die plaas en hulle het die nodige permitte. Die vraag na voedsel het gestyg. "Daar sal nie nou 'n tekort ontstaan nie," sê hy.
Aanpassings moes wel gemaak word met die vervoer van werkers. Hulle moet ook maskers dra en hul hande ontsmet.
Landbou was reeds voor die koronavirus weens die droogte onder druk. Binneplase wat weg is van die riviere, het steeds 'n tekort aan water en word aangery.
Aan die positiewe kant het petrol- en dieselpryse die afgelope tyd gedaal. Daar is ook lesse te leer uit die situasie. "Hierna sal ons beter met geld kan werk, en mense sal ook meer respek vir mekaar hê en higiënies wees," sê Stander.
Kyk 'n video hieronder.
Nelius van Greunen, besturende direkteur van Van Greunen-boerdery naby George, sê dis moeilike omstandighede om in te werk en om kos op die tafel te hou vir die mense van Suid Afrika. Die boerdery bevat verskeie vertakkings waaronder melkboerdery. In normale tye voorsien hulle in 1,3% van die land se totale melkproduksie.
Volgens van Greunen is dit uitdagende tye. "Ek is trots om te kan sê dat die mense in Van Greunen Boerdery alle maatreëls in plek het om mekaar se gesondheid te beskerm terwyl elkeen hard werk om kos op die tafel te hou."
Volgens La Grange Volschenk wat by Ladismith boer is dit steeds droog, maar die virus het die fokus weggevat van die droogte.
"Ons probeer alles wat ons kan in die grond sit, maar dis moeilik met die bitter min water. Groot aanpassings is reeds gemaak en sal nog gemaak moet word, soos byvoorbeeld werkers wat nie naby mekaar mag staan nie. Op 'n positiewe noot verskaf landbou baie werk."
Hessequa
Tisha Steyn van Suid-Kaap Forum berig die droogte in die Hessequa-streek is nog nie gebreek nie, maar die damme het meer water as verlede jaar die tyd. Louis van Dyk, bestuurder van die Korente-Vetterivier-besproeiingsraad, sê die Korentepoortdam is net meer as 70% vol, vergeleke met verlede jaar se 50%.
"Die droogte is nie gebreek nie - ons het nog niks reën in April gekry nie - maar die reënpatroon wil lyk asof dit na 'n natter periode begin draai."
Volgens hom is daar genoeg water in die dam sodat suiwelboere aan die bergkant van die N2 hul aangeplante weiding kan besproei.
"Op die Droë Vlakte, soos die gebied aan die seekant van die N2 bekend staan, plant graanboere op droëland. Ek het in die week met 'n boer gepraat wat pas klaar gesaai het en hy glo dit gaan hiérdie naweek reën."
Jan-Hendrik Joubert, wat juis op die Droë Vlakte boer, sê daar is water vir veesuipings, maar die vee word steeds gevoer. "Ons plant maar koring, hawer, gars en kanola in die droogte met die hoop dat dit sal reën."
Die Duivenhoksdam by Heidelberg se watervlak staan op 98,9% en die Buffeljagsdam by Swellendam is 100% vol.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'