Gallery
TUINROETE NUUS - Hennie Dollies, 'n agriwerker van Van Greunen-boerdery, is verlede Donderdagaand aangewys as 2021 Tuinroete Agriwerker van die Jaar. Die oomblik was vir hom so groot dat hy spontaan 'n kort vreugdedansie voor die verhoog uitgevoer het.
Hy het gesê dat hy nooit sou kon droom om so 'n titel te wen nie. Hy is ook die wenner van die afdeling diereproduksie.
Die prysuitdeling was 'n spog-geleentheid by die George-skouterrein wat ook bygewoon is deur dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, en die Garden Route-burgemeester Memory Booysen.
Dollies het in sy toespraak vertel hy is in Oudtshoorn gebore en het daar grootgeword, maar weens sy persoonlike omstandighede kon hy nie sy skoolloopbaan voltooi nie en het later in George beland.
Veertien jaar gelede het hy by Van Greunen-boerdery werk gekry.
Die Van Greunens het potensiaal in hom gesien wat hy self nie kon raaksien nie en hom in 2019 as produksiebestuurder aangestel.
Dollies het die ander agriwerkers aangemoedig om nie toe te laat dat hul omstandighede hulle pootjie nie.
"My omstandighede het gemaak dat ek nie matriek kon haal nie, maar ek het nie daarteen vasgekyk nie. Vanaand staan ek hier as agriwerker van die jaar wat ek nooit ooit in my lewe kon droom om te maak nie, maar die Here het dit vir my moontlik gemaak."
Fotogalery: Agriwerker van die jaar gekies vir 2021
Gertrude Jacobs, waarnemende direkteur van agri-werker-ontwikkeling by die Wes-Kaapse depar-tement van landbou, het gesê die kompetisie het in 2002 'n klein begin gehad as 'n agriwerkerontwikkelingsprojek in De Doorns. Vandag word dit in 16 streke in die Wes-Kaap aangebied.
Die eerste drie wenners in elk van die 12 kategorieë gaan binnekort na Stellenbosch vir vier dae opleiding in hulle veld en vir verdere evaluasie deur die landboudepartement, wat die provinsiale wenners sal aanwys.
Minister Meyer het in sy toespraak die belangrike rol van agriwerkers beklemtoon en gesê hulle werk is essensieel omdat hulle sorg dat die land se burgers kos op die tafel het. Hulle dra ook by tot die ekonomie. Landbou in die Wes-Kaap dra 11% by tot die provinsiale ekonomie.
Die Wes-Kaapse boere en agriwerkers dra ook 50% by tot Suid-Afrika se landbou-uitvoere, hoewel die provinsie beskik oor slegs 10% van die nasionale bevolking en 10% van die land se geografiese gebied.
Franklin September, wenner van die afdeling junior bestuur, is van Haygrove Eden.
Kers vir Christo Fourie
'n Kers is tydens die verrigtinge opgesteek vir wyle Christo Fourie, visepresident van die landbouskou, vir sy groot bydrae tot die sukses van die kompetisie en die skou. Fourie is in Augustus tydens die beoordeling van die kompetisie oorlede. Die skougenootskap het 'n fotobord met foto's waarin Fourie verskyn, aan sy vrou Aroura oorhandig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'