Die eerste drie dae word afgestaan aan 'n toer van landbougebiede, terwyl die laaste dag 'n program propvol interessante sprekers het.
"Bewaringsboerdery is die antwoord vir volhoubare produksie binne 'n reënafhanklike produksie omgewing," sê prof. Johann Strauss, hoof van Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) wat op Elsenburg gesetel is. Landbouweekblad is die borg.
Volgens Strauss kan enigiemand 'n bewaringsboer wees, mits die boerdery op die drie bene van bewaringslandbou gebaseer is, naamlik wisselbou, minimum grondversteuring en maksimum behoud van oesreste. Dit is ook geskik vir enige tipe boerdery solank by hierdie beginsels gebly word.
"Die alternatiewe is konvensionele boerdery gebaseer op die ploeg en organiese boerdery wat myns insiens nie in die produksievraag kan beantwoord om die massas te voed nie," sê hy.
Bewaringsboerdery kan jou geld spaar, want die stelsel verlaag insetkoste en verhoog die winsmarge. Bewaringsboerdery verleen hom ook aan minder arbeid, aangesien minder masjinerie nodig is.
"Die doel van die konferensie is om 'n forum vir ons lede en belangstellendes te skep waar praktiese inligting uitgeruil en bespreek kan word ten opsigte van bewaringslandbou. Daardeur kan vraagstukke lei tot nuwe navorsing."
Diegene wat reeds bewaringslandbou beoefen of belangstel om daarmee te begin, bedryfsmanne en -vroue wat dienste verskaf aan die boere is, en navorsers wat nuwe idees oor die konsep kan genereer, is welkom om die kursus by te woon.
Die sprekers is met die hand uitgesoek. "Hierdie sprekers is suksesvol in hulle beoefening van bewaringslandbou en hulle is oortuig van die waarde van die stelsel," sê Strauss.
Die program sluit 'n drie dag lange toer deur verskeie graangebiede aan in aanloop tot die konferensie op 8 Augustus.
"Die idee met die toer is om vir Rolf Derpsch van Paraguay, die hoofspreker, die geleentheid te gee om te sien wat ons in die provinsie doen ten opsigte van bewaringslandbou.
"Hy gaan op die konferensie onder andere ons bewaringslandbou evalueer. Dit sal goed wees vir ons boere om te hoor wat 'n wêreldleier op bewaringslandbou dink van ons situasie.
Tydens die toer gaan 'n aantal boere van die Swartland (5 Augustus), Riversdal, Heidelberg en Swellendam (6 Augustus), en Caledon en Bredasdorp (7 Augustus) besoek word.
Die program sluit die volgende sprekers in:
- Rolf Derpsch: Hoekom bewaringsboerdery?
- Hendrik Smith: GraanSA se bewaringsgroep
- Jack en Jacobus Human: Terugblik en vooruitskouing van 'n bewaringslandbouplaas
- Cobus Bester: Hoekom volg ons die stelsel wat ons volg
- WG Treunicht: Watter verskille sien ek op my plaas vandat ek begin het met geenbewerking
- Richard Krige : Hoe bestuur ek bewaringslandbou binne 'n gewas/weidingstelsel?
- Jurian Schreuder: Geenbewerking in sandgrond, werk dit?
- Francois Uys: Hoekom kompostee en watter verskil maak dit by ons?
- Johannes Schoonwinkel: My filosofie oor bewaringslandbou en terugvoer oor 'n onlangse Kanadese besoek
- Rolf Derpsch: Assessment of Western Cape CA
Die koste beloop R400 vir nie-lede, en R275 vir betaalde lede, en R500 vir laat registrasie. Die sluitingsdatum vir bespreking van plek is 23 Julie.
Vir meer inligting kontak dr Johann Strauss by 021 808 5479 of 082 907 3109.
ARTIKEL: TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'