LANDBOU NUUS - Agri Wes-Kaap se Algemene Jaarkongres is verlede week 25 Julie buite Worcester gehou en twee paneelbesprekings het vanjaar deel uitgemaak van die kongres met die tema “Landbou Hierna”.
Mnr Ivor Price, bekroonde joernalis en mediapersoonlikheid, het die gesprekke gelei.
Die eerste paneelbespreking het gefokus op Landbou Hierna. Mnr Dave Möhr, ekonoom, het gesê landbou werk in ‘n inherente onstabiele omgewing met omgewings-, ekonomiese- en samelewingsfaktore wat deurentyd verander.
Hy het gesê hoewel Suid-Afrika ‘n nuwe landsbestuur het, moet die landbou nie ooroptimisties wees oor wat dit beteken nie. Hy het gesê die Ramaphosa-regering het ‘n groot besef van die belang van die landbou, maar dat staatsinstellings voor in die ry gaan staan as daar uitgedeel gaan word. “Boere moet dit weet,” het hy gesê.
Mnr Roland Henwood, politieke wetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het gesê baie mense wou hê President Ramaphosa moes na sy verkiesing instap en sê ‘hier trek ons die streep’, maar die president baklei met een-en-‘n-halwe hand agter sy rug vasgebind om politieke oorlewing.
“President Ramaphosa gaan nie uitkom en sê: ‘landbou, kom ons stap die pad saam’, nie. Hy gaan dit ook nie vir enige ander sektor in die land sê nie.” Mnr Henwood het gesê wat die gronddebat aanbetref het mnr Ramaphosa die bal vir die oomblik kantlyn toe geskop, maar “die bal sal weer ingegooi word wanneer dit die opportuniste pas”.
Me Doris Viljoen, senior Toekomskundige by die Instituut vir Toekomsnavorsing, het gesê aanduidings is dat daar teen 2030 een-en-‘n-half biljoen mense in Sub-Sahara Afrika gaan wees wat kos iewers gaan moet kry.
“Moet asseblief nie ophou boer nie, ons het julle nodig,” het sy vir die afgevaardigdes gesê.
Me Viljoen het gesê verstedeliking gaan geweldige verandering meebring, soos stedelike produsente wat tot die landbou-waardeketting gaan toetree. “Dit bied sowel allerhande geleethede as interessante regulatoriese uitdagings. Hoe beheer jy dit byvoorbeeld om doodseker te wees voesel wat iewers op ‘n dak geproduseer is en in die waardeketting beland, is veilig en gesond.”
Me Shelly Fuller, bewaringslandboukundige verbonde aan die WWF SA, het gesê hoewel landbou op die omgewingsfront vele uitdagings het, is daar uitstekende voorbeelde van hoe dit in die verlede oorkom is.
“Ons het ‘n benadering van herstel nodig in die manier hoe ons grond bestuur. Landbou het al die skuif gemaak om meer in lyn met herlewingslandbou te wees. Suid-Afrika het min bewerkbare grond en baie mense om te voer. Die uitdaging is om meer met minder te produseer.”
Die tweede paneelbespreking het gefokus op die rol van die landbousektor in die landelike gebiede van die Wes-Kaap.
Mnr Johann Kotze, Uitvoerende Hoof van die SA Varkvleisprodusente Organisasie, het gesê buiten dat die Wes-Kaap se landbousektor waardevolle buitelandse valuta vir die land verdien, ontwikkel dit ook die landelike gebiede. “Die Wes-Kaap is goed geposisioneer en bly ‘n fantastiese deel van die wêreld vir internasionale handel. Dit is vir die landbousektor ‘n voorreg om ‘n bydrae tot die landelike gebiede te lewer,” het hy gesê.
Mnr Johann Boonzaaier, produsent en landbou-ekonoom wat vroeër aan die Buro vir Voedsel en Landboubeleid verbonde was, het gesê die Wes-Kaap landbousektor en sy vennote neem gereeld die voortou, soos met die landbousensus wat die Wes-Kaap se Departement van Landbou in 2017 onderneem het.
“Die Wes-Kaap landbousektor het ‘n sterk fokus op die behoeftes en verwagtinge van sy vebruikers en poog deurentyd om by ‘n veranderende omgewing aan te pas.”
Mnr Philip Jonker, produsent van Bonnievale, sê die Wes-Kaap se landbousektor het ‘n sterk fokus op sosiaal-maatskaplike waardetoevoeging. Hy het saam met die Bonnievale-gemeenskap en die Wes-Kaap se Onderwysdepartement gehelp om die Jakes Gerwel Tegniese Hoërskool te bou.
Op ‘n vraag deur die gespreksleier oor waarom die landbou betrokke moet raak, het mnr Jonker gesê “landbouers bou die land en landelike gemeenskappe het game changers nodig”. “Niemand kan dit bekostig om ‘n ongesonde gemeenskap om hulle te hê nie. Daar is genoeg geloof in hierdie saal om berge te versit,” het hy gesê.
Mnr Devin Osborne, hoof van Agronomie by Aerobotics, het gesê landbouers gaan in die toekoms slimmer moet dink en slimmer moet boer.
Hy sê die Wes-Kaap loop voor in terme van tegnologie op plase en in die opleiding van plaaswerkers om tegnologie te gebruik. “Om plaaswerkers te vertrou en tegnologies op te lei, is ‘n wen-wen situasie. Dit bemagtig hulle en gee vir hulle vaardighede wat hulle kan ontwikkel en aan hulle kinders kan oordra.”
Me Sarie Nell, oud-maatskaplike werker wat navorsing gedoen het oor die uitwerking van die droogte op landbouers se vroue, het van haar bevindinge met die kongres gedeel. “Ek het geleer dapper mense met karakter is moeg. Mans en vroue sukkel om die uitwerking van die droogte te oorkom. Hulle is in hulle koppe besig met ‘n proses en moet leer om aan te pas, maar niks gaan ooit weer sorgvry wees nie. Daar is min sielkundige dienste op die platteland. Ons moet ons opskerp oor wat die tekens is van mense wat depressief is. Luister sonder oordeel. Die fisiese en emosionele uitwerking van die droogte op landbouers en hulle vroue kan nie misgekyk word nie.”
In sy groeteboodskap aan die kongres het mnr Dan Kriek, President van Agri SA, na die grondverslag verwys.
“Mense moet pa staan vir wat hulle in die verslag gesê het. Mense gaan moet verduidelik hoekom hulle lynreg teen regsadvies steeds die wysiging van die grondwet aanbeveel,” het mnr Kriek gesê.
Tydens die kongres is mnr Cornie Swart van Gansbaai en mnr Hugo de Waal van Eendekuil onderskeidelik as President en Vise-president van Agri Wes-Kaap herkies.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'