Die wêreldorganisasie vir boere (WFO), waarvan Agri SA en die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) lid is, het onlangs by sy jaarvergadering in Italië hom daartoe verbind om voort te gaan om bydraes te lewer en aanpassings te maak om die uitwerking van klimaatsverandering te versag.
Wills het gesê waterverwante kwessies is van die grootste wat die landbousektor rakende klimaatsverandering raak. Die bedryf gebruik meer as 60% van die land se water. “Die eerste stap sal ’n tegnologiese skuif moet wees van oorhoofse sproeiers en kanaalbesproeiing na dripbesproeiing.
“Doeltreffende watergebruik moet toegepas word. Die tweede aanpassing sal die omruil van gewasse moet wees.” Hy verduidelik dat die Swartlandse koringstreek weens klimaatsverandering in werklike terme 300 km suidwaarts geskuif het. “Die gebied is nou nie meer geskik vir koring nie en jy sit ook met bates wat gestrand is, want al die infrastruktuur om die bedryf te dien is hier opgerig. ’n Ander gewas sal hier verbou moet word.”
Wills het gesê die landboubedryf is egter besig om by die veranderende omstandighede aan te pas en die nodige skuiwe te maak. Dit kan gesien word in die wynbedryf waar wingerde wat tradisioneel in die valleie aangeplant was, nou op die heuwelhange voorkom. Ander variëteite word nou in valleie aangeplant.
Klimaatonderhandeling
Suid-Afrika se onderliggende beginsel in die klimaatsonderhandelinge wat gaan plaasvind, is om toe te sien dat ’n balans gevind word rondom omgewingsvereistes en die ontwikkelingspad daarvan “Ons wil pariteit sien tussen aanpassing en matiging in die post-2020 stelsel, want indien daar ’n styging van twee grade in die temperatuur is, dan sal Afrika ’n vier of vyf grade styging beleef.” Suid-Afrika se verwagting is dat vanjaar se ooreenkoms in Parys gedryf sal word deur multilaterale reëls en regsbindende ooreenkomste.
“Ons moet seker maak dat die stelsels wat ons bou voldoende is, sodat die wêreldtemperatuur nie met twee grade styg nie.” Suid-Afrika staan ook ’n forum voor wat moet seker maak dat die onbedoelde gevolge van lande se matigingsaksies op ander lande bestuur word. Wills het ter voorbeeld uitgewys na die verbod wat Nederland op die invoer van blomme van Kenia geplaas het.